Stormers beloof om nie te gaan lê

(Foto: Hansie Linde)

Die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) staan einde se koers toe en die Stormers is beslis nog in die uitspeelwedloop.

Die Kapenaars beklee tans die vyfde plek op die amptelike punteleer, maar goeie vertonings in hul oorblywende groepwedstryde – teen Connacht (weg) en die Lions (tuis) – kan dinge aansienlik makliker maak.

John Dobson se spelers het juis gewys wat in hulle steek toe hulle 25 onbeantwoorde punte teen die Dragons aangeteken het om die kragmeting met 44 – 21 op Rodney Parade te beklink.

“ ʼn Topagtplek is binne ons bereik en ons sal nie gaan lê nie,” het die Stormers se direkteur van rugby beloof.

Hy weet egter dat dit gʼn maklike taak sal wees om teen Connacht op sy tuisveld kragte te meet nie.

“Dit is baie moeilik om in Galway te speel. Connacht wil ook onder die voorste agt spanne tel en ons sal beslis ons sokkies moet optrek.”

Volgens Dobson is hy dankbaar dat die wedstryd in ʼn warmer Europese maand plaasvind en nie in November of Desember nie.

“Teen die Dragons was ons ingesteldheid nie wat dit moes wees nie ons het vir ʼn ruk gesukkel om ons stempel op die wedstryd af te druk.”

Volgens Willie Engelbrecht is ’n sege so te sê ononderhandelbaar vir die Stormers.

“Dit maak nie eintlik saak hoe die weer vir Saterdag lyk nie, wanneer ons op ons stukke is, kan ons met enige span afreken; ongeag die weersomstandighede,” het die sterk losvoorspeler gesê.

“Ja, dit is moeilik om Europese spanne op hul tuisveld te klop, maar ons het goed voorberei en ons is gereed vir aksie.”

  • Die naweek se VRK-bepalings:

Saterdag:

14:00: Bulls teen Benetton

16:05: Lions teen Glasgow Warriors

18:05: Stormers teen Connacht

18:15: Sharks teen Cardiff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.