Stormers bo, maar verspeel talle kanse

Dit is vier punte op die punteleer werd en daar kan geen twyfel wees dat die Stormers verdien het om te wen nie.

Maar daar is beslis ʼn paar vrae oor hul vertoning Saterdag teen die Reds op Nuweland.

Die Stormers het met 25-19 gewen, maar nie die vele kanse gebruik wat geskep is nie.

Hulle was kort voor rustyd welverdiend met 18-0 voor nadat hulle die besoekers vir die eerste 20 minute in hul eie gebied vasgepen het. Ironies genoeg het een van hul twee drieë voor rustyd uit eie gebied gekom toe Raymond Rhule, met ʼn skitterende vaartversnelling en trek van twee teenstanders, die man-oor en daarmee Dewaldt Duvenage se drie bewerkstellig het.

Rhule het oor die hele veld hard gewerk, maar weer ʼn aantal kere op die verdediging tekortgeskiet.

Kort voor rustyd het die Reds skielik vlamgevat en gaan druk en kort ná die omdraaislag weer gaan druk. Op 18-14 was die wedstryd skielik so taai as wat verwag is.

Met die jong losskakel Damian Willemse wat agterlangs ondanks ʼn paar foutjies gewys het hier kom ʼn grote, en Pieter-Steph du Toit en Ramone Samuels wat voorlangs meer as hul deel gedoen het, was die tuisspan feitlik die hele tyd in beheer.

Die Reds het in die skrums gesukkel, maar goed genoeg gekeer om die tuisspan in hul strewe na ʼn bonuspunt te frustreer – en toe ʼn minuut voor die einde vanaf hul eie doellyn gaan druk.

Ná die afskop wat toe steeds moes plaasvind en ʼn daaropvolgende strafskop, het die Reds ʼn lynstaan op die Stormers se lyn afgedwing, maar nie die ses benodigde punte kon aanteken nie.

ʼn Lekker wedstryd, met stukkies goeie spel aan albei kante. Maar die vrae oor die Stormers is steeds daar. Hulle was veel beter as drie drieë elk.

Puntemakers –
Stormers 25 (18):
Drieë: Dewaldt Duvenage, Wilco Louw, Raymond Rhule. Doelskop: Damian Willemse (2). Strafdoele: Willemse (2).
Reds 19 (7): Drieë: Caleb Timu, Alex Mafi, Filipo Daugunu. Doelskoppe: Jono Lance (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bets Bothma ·

Ek is n stoere Stormers ondersteuner, so sowaar – hul moet begin plan maak met die tweede-helfte-sindroom, hul speel altyd “agteruit” in die 2e helfte en het al wedstryde so verloor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.