Stormers deel weer slae uit op Kingspark

Die Stormers het die Sharks in Durban geklop. (Foto: X/Stormers)

Die toeskouers (31 093) het vandag in hul duisendtalle na Kingspark in Durban opgeruk om die Sharks (en sekerlik darem ook die Stormers) te ondersteun, maar toe moes hulle weer teleurgesteld huiswaarts keer.

Die Stormers, wat die Sharks met 16-15 in die eerste van die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde in Desember geklop het, het dit nou met ʼn oorwinning van 25-21 opgevolg nadat hulle rustyd met 15-7 voor was.

Die Stormers, wat laas in 2021 teen ’n Suid-Afrikaanse span verloor het toe die Lions hulle geklop het, se selfvertroue en momentum is hemelhoog.

Al speel hulle die dag swak, weet hulle hoe om te wen. Hulle is ook baie goed afgerig.

Die Sharks kort daardie selfvertroue en momentum.

Die tuisspan het genoeg besit gewen, hulle het gebiedsvoordeel gehad en boonop is die Stormers met ʼn geel kaart gestraf nadat die vleuel Leolin Zas die bal met die Sharks op die aanval vorentoe geklap het.

Waar het dinge dan vir die Sharks verkeerd geloop?

Hulle speel oënskynlik sonder selfvertroue en daar is baie min momentum. Hulle weet nie meer wat dit behels om te wen nie en dalk probeer hulle te hard.

Hulle het ʼn magdom talentvolle spelers en dit wemel van Springbokke (daar was vandag tien in die groep), maar hulle kom nie oor die streep nie.

Dalk probeer hulle te veel om aanskoulike rugby te speel wat deur die afrigter, John Plumtree, voorgestaan word.

Dalk kort hulle net een oorwinning om die verloorgety om te keer, hoewel dit reeds te laat vir die seisoen se Verenigde Rugbykampioenskap is omdat hulle laaste bly vassteek.

Vir die Stormers was dit nie hul beste vertoning nie, want daarvoor was daar te veel foute en verkeerde besluitneming.

Maar hulle bly wen, al het hulle ’n hele paar groentjies teen van die Sharks se hardebaarde ingespan.

Die statistiek vertel die verhaal: Die Stormers het nou al ses van hul laaste ses wedstryde gewen.

Die Stormers het vier van hul laaste vyf wedstryde teen die Sharks gewen, terwyl hulle in 2022 met 22-22 gelykop gespeel het.

Kan die Sharks dit omkeer?

Beslis, as hulle selfvertroue en momentum kan terugkeer.

Puntemakers: Stormers 25 (15): Drieë: Joseph Dweba, Paul de Wet, Ben Loader. Doelskoppe: Sacha Feinberg-Mngomezulu. Strafdoele: Feinberg-Mngomezulu (2).

Sharks 21 (7): Drieë: Ox Nche, James Venter, Bongi Mbonambi. Doelskoppe: Curwin Bosch, Siya Masuku (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.