Stormers dis vlugvose vertoning op

Die Exeter Chiefs het ’n rits drieë teen die Stormers gedruk. (Foto: Twitter)

Een van die Stormers se Europese drome is aan’t skerwe nadat die Exeter Chiefs die Kampioenebeker-kwarteindstryd met 42 – 17 op Sandy Park gewen het.

Die Kapenaars – wat met hul vlugte na Europa gesukkel het – het veral in die eerste helfte ʼn vlugvose vertoning opgedis en die tuisspan het ordentlik daaruit munt geslaan.

Binne ʼn oogwink het Steven Kitshoff en kie ʼn agterstand van 19 – 0 in die gesig gestaar en hulle moes noodgedwonge opvangrugby begin speel.

Dan het hulle ook kwaai na Deon Fourie verlang.

Die immergroen losvoorspeler het die wedstryd weens ʼn besering misgeloop en die Stormers het gesukkel om hul stempel voorlangs af te druk. Exeter het na hartelus balbesit geplunder en die besoekers moes magteloos toekyk.

In die tweede helfte het die Stormers ietwat beter begin speel.

Damian Willemse het lus gelyk om met die bal te hardloop en hy was saam met Suleiman Hartzenberg en Marvin Orie een van sy span se driedrukkers.

John Dobson het ná afloop van die wedstryd geen verskoning vir sy span se geploeter gemaak nie.

“Alles het doodeenvoudig net vir ons in die eerste helfte verkeerd geloop. Exeter verdien egter lof vir die hoë intensiteit waarmee hulle gespeel het; ons was heeltemal oorrompel,” het die Stormers-afrigter gesê.

Hoewel hy trots is op sy span se vertoning om tot die kwarteindstryd van ʼn groot Europese toernooi te vorder, sal daardie eerste helfte nog vir ʼn rukkie by hom spook.

“Dit gaan moeilik wees om die eerste 25 minute van die wedstryd te verwerk, dit was eintlik bisar. Ek was veral bekommerd oor hoe ons nie die mas op verdediging kon opkom nie; ons het sonder enige woema gespeel.”

Die Stormers speel op 14 April teen Munster in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in Kaapstad.

“Ons sal goed moet reis, ordentlik rus en probeer om van die teleurstelling van hierdie wedstryd te vergeet. Terselfdertyd sal ons op ons beste op die oefenveld moet wees en hopelik wen ons nog ʼn wedstryd op die DHL-stadion om ʼn tuisuitspeelwedstryd te verseker.”

  • Puntemakers:

Exeter Chiefs: Drieë: Tom Wyatt, Jack Nowell, Olly Woodburn, Sam Simmonds, Jack Yeandle en Tom Cairns. Doelskop: Joe Simmonds (6).

Stormers: Drieë: Damian Willemse, Suleiman Hartzenberg en Marvin Orie. Doelskop: Manie Libbok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.