Stormers en Edinburgh deel die louere

Foto: URCOfficial/Twitter

Die Stormers het vooraf daaroor gesels … om nie vir die oud-Leeus-losskakel Jaco van der Walt, wat vir Edinburgh speel, onnodig kanse te gee nie.

Wel, dit het Saterdag in die Verenigde Rugbykampioenskap gebeur toe Van der Walt as Speler van die Wedstryd tussen Edinburgh en die Stormers aangewys is.

Van der Walt, wat ook al vir Skotland gekies is, was in die kol met twee strafdoele en twee doelskoppe; hy het sy agterlyn baie goed weggestuur en sy taktiese skopwerk was in die kol.

Dié kragmeting het met 20-20 gelykop geëindig nadat nie een van die twee spanne punte in die tweede helfte kon aanteken nie.

Dit was ʼn vreemde wedstryd, want die eerste helfte was vol opwinding en is teen ʼn hoë tempo gespeel. Albei spanne het nie geskroom om met die bal te hardloop nie, alles is op volle vaart gedoen en daar was sprankelbewegings.

Maar wat rustyd in die kleedkamers gesê is, weet ʼn mens nie, want albei spanne het in hul doppe gekruip en oorgeslaan na ʼn konserwatiewe spelpatroon.

Soos hulle in die ou dae gesê het, ʼn gelykopuitslag is soos om jou suster te soen.

Kon die Stormers gewen het?

Beslis ja, en by ʼn paar geleenthede was dit baie naby, veral toe die Stormers se losskakel, Tim Swiel, met ʼn langerige strafskop tien minute voor die einde misluk het wat sy span sou laat wen het. Swiel het ook die doodsnikke kans gekry om met ʼn skepdoel sake te beklink, maar hy het die bal regs verby die pale getrek.

Speeltyd was ná 84 minute verstreke, maar wat doen Edinburgh se heelagter, die oud-Suid-Afrikaner Henry Immelman toe? In plaas daarvan om die bal dood te druk, het hy begin hardloop en tot by die 22 meter-lyn gevorder voordat hy vasgevat is.

Die Edinburgh-skare het sekerlik die papelellekoors gekry, want wat was die kans dat sy span oor die hele veld sou vorder?

Punte: Edinburgh 20 (20): Drieë: Darcy Graham, Ben Vellacott. Doelskoppe: Jaco van der Walt (2). Strafdoele: Van der Walt (2).

Stormers 20 (20): Drieë: Warrick Gelant, Paul de Wet. Doelskoppe: Tim Swiel (2). Strafdoele: Swiel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Shakespeare ·

Ons spanne begin hul voete oorsee vind. Ek verwag nog baie “sparks” by hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.