Stormers, WP sal De Jongh mis

Juan de Jongh se vertrek na Wasps is vir die Stormers ʼn slag. (Foto: Facebook)

Uit ʼn nasionale oogpunt sal die nuus dat Juan de Jongh aan die einde van die Superseisoen na Wasps in Engeland vertrek, nie as ʼn ernstige slag beskou word nie, maar vir die Stormers en die Westelike Provinsie is dit slegte nuus.

De Jongh wat as sewesspeler sy merk gemaak het voordat hy via die WP se strukture tot die Bokspan gevorder het, het sedert sy toetsdebuut in 2010 net in 19 toetse in sewe seisoene gespeel.

Hy was vanjaar grootliks beseer, maar het die Stormers verlede jaar aangevoer. Hy was veral goed met die organisasie van die agterlyn.

De Jongh se goeie voetwerk in sewesrugby het nie dieselfde effek in Super- en toetsrugby gehad nie, behalwe as hy ʼn bietjie ruimte gehad het met net een of twee spelers om te klop.

Ongelukkig vir hom was Allister Coetzee se veiligheid eerste- benadering as afrigter van die Stormers nie die soort spelpatroon wat die talentvolle De Jongh se sterkpunte gepas het nie.

Sy grootte (88 kg) het ook teen hom getel teen die groot Kiwi-senters van die Suidsee Eilande.

Vir Robbie Fleck-hulle is sy vertrek egter ʼn slag. Hulle het vanjaar vir Huw Jones aan Skotland afgestaan (hy is tans beseer hoewel hy tegnies nog ʼn Stormer is), Daniel du Plessis is beseer, en Dan Kriel, veral op die verdediging, is (nog?) nie Supergehalte nie.

EW Viljoen, wat ʼn uiters goeie Superseisoen agter die rug het, en die verloopte Kiwi Shaun Treeby is nou die manne wat saam met Kriel die fort tot ná die Curriebeker sal moet hou.

♦ Wasps, waarheen De Jongh op pad is, het verlede naweek die Premierliga se eindstryd in ekstra tyd in teen Exeter met 20-23 verloor en is uiteraard ʼn vooraanstaande klub.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kollie ·

Ag nee wat, hy het sy beste tye gehad. Tyd vir die jong manne om hand op te steek.

zahn ·

Sal nou nie te hard huil nie. Raklewe is raklewe, hy is al lankal verby dit. Sterkte in elk geval.

Genieve ·

Ek het hom nie eers gemis by die stormers nie want hulle het ma swak gespeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.