Stormers haal weer asem ná hul Griekwas afslag

Soms moet ʼn span verloor om die spinnerakke af te skud.

Dit het die Stormers Saterdag in Kimberley gewys toe hulle Griekwas met 39 – 6 in ʼn Superrugby Unlocked-wedstryd geklop het.

Ná verlede Saterdag se drag slae teen die Bulls in Pretoria, is daar in die spieël gekyk en selfondersoek gedoen.

Dit was dalk net die regte medisyne, want die vertoning teen die Bulls was ʼn verleentheid, dit het die leemtes oopgevlek, dit was die nodige wekroep vir die Stormers wat dalk in ʼn gemaksone verval het.

Dit het talle oud-Springbokke soos Rob Louw genoop om die Stormers erg te kritiseer.

Louw het in die dae van Dok Danie Craven gespeel, wat nie geskroom het om van sy topspelers te pos wanneer sake nie klopdisselboom gegaan het nie.

Saterdag het die Stormers weer die stang vasgebyt, die bal die werk laat doen en Griekwas soms van hul voete af gespeel.

Voorlangs het die Stormers oorheers, Griekwas se lynstane erg ontwrig en agterlangs het balvaardige spelers soos Warrick Gelant, Angelo Davids, Damian Willemse en Dan du Plessis gedy.

Ja, dit was net Griekwas wat sukkel om die mas op te kom omdat hulle nie die nodige diepte en spelersgetalle het om ordentlik mee te ding nie.

Maar wat belangrik was, was hoe die Stormers gespeel het, hoe hulle die basiese vaardighede uitgeoefen het, die kanse wat hulle vir mekaar geskep het en hoe hulle die tempo van die wedstryd bepaal het.

Daar lê nog harde werk voor, want dit was nie altyd eenrigtingverkeer nie, maar van die jong Stormers het gewys dat die ervare spelers nie net op hul louere kan rus nie.

Puntemakers:

Stormers 39 (15): Drieë: Ernst van Rhyn, Neethling Fouché, Angelo Davids, Dan du Plessis, Juarno Augustus, Damian Willemse. Doelskoppe: Willemse (3). Strafdoel: Willemse.

Griekwas 6 (3): Strafdoele: Tinus de Beer (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae