Stormers kan nie teen Exeter gaan lê

Steven Kitshoff en Ruhan Nel. (Foto: Hansie Linde.)

In die drukkoker van ʼn uitspeelwedstryd is dit belangrik om nie jou voet van die versnelpedaal te haal nie.

ʼn Span moet vir die volle 80 minute rugby speel.

Volgens Ruhan Nel het die Stormers ʼn waardevolle rugbyles in verlede week se wedstryd teen Harlequins in Kaapstad geleer toe hulle ʼn rits drieë in die doodsnikke van die kragmeting afgestaan het.

Hulle het egter steeds genoeg gedoen om die tweestryd met 32 – 28 te wen en die Kapenaars het beslis die nodige momentum vir Saterdag se Kampioenebeker-kwarteindstryd teen die Exeter Chiefs in Engeland.

Nel meen dat die Stormers paraat moet wees om sulke terugvegpogings in die kiem te smoor; Exeter het immers met sy veggees in die klub se vorige wedstryd beïndruk toe hy met 33 elk teen Montpellier gelykop gespeel het.

“Ons is nou nie net deeglik bewus van Exeter se veerkragtigheid nie, maar ook van die desperaatheid waarmee hulle speel. Hul rugbyingesteldheid is reg en hulle handhaaf ʼn goeie balans tussen aanvallende spel, verdediging en skopwerk,” het die sterk senter gesê.

Hy sien terselfdertyd ook uit na sy tweestryd met Henry Slade, Exeter se Engeland-senter.

“Slade is ʼn goeie speler wat kan skop en hardloop terwyl hy ook met sy aangeewerk beïndruk. Dit is altyd lekker wanneer ʼn mens met van die beste spelers ter wêreld kan swaarde kruis. En Henry val beslis in daardie kategorie.”

Rob Baxter, die Engelse klub se direkteur van rugby, het vandeesweek die Stormers heuning om die mond gesmeer en gesê dat sy span nie ʼn kat se kans teen die Kapenaars staan nie.

Exeter het hierdie seisoen egter nog net teen Saracens op sy tuisveld verloor en sy spelers skakel beslis oor na ʼn hoër rat wanneer hulle deur die toeskouers aangevuur word.

“Hierdie is die uitklopfase van die kompetisie; dit is nou die topspanne wat teen mekaar speel. Wie ook al onder druk staande bly, sal die septer swaai.”

Die wedstryd begin Saterdag om 18:30 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.