Stormers neem wraak teen Bulls

Foto ter illustrasie. (Foto: Facebook)

Die Kaap is weer Hollands nadat die Stormers Saterdagmiddag op Nuweland die Bulls met 24-23 in hul Superwedstryd geklop het.

Maar soos dit vanjaar met elke Suid-Afrikaanse span gaan, was dit weer ʼn geval van die een week op en die volgende week af.

Hoe kan ʼn span wat teen dieselfde teenstanders ʼn paar weke met 3-40 slae gekry het, nou weer die stang vasbyt?

Speel tuisveldvoordeel dalk nie te ʼn groot rol nie?

Maar ten minste was daar heelwat meer passie, die agterspelers het soms gedy, daar was vaart tussen die vleuels en dit was kliphard voor, maar steeds te veel foute aan albei kante om dit as ʼn fynproewersdis te beskryf.

Die Stormers het eindelik makliker gewen as wat die eindtelling aandui, want hulle het ʼn amperse breinfloute in die 81ste minuut beleef toe Handré Pollard se lang strafdoel, wat aan die Bulls ʼn bonuspunt sou besorg het, regs verby was.

Die Stormers, in plaas daarvan om die bal uit of dood te skop om die Bulls van ʼn bonuspunt te weerhou, het van agter hul eie doellyn begin aanval.

Wou hulle ʼn vierde drie vir ʼn bonuspunt druk? Dit nogal van 100 m af?

Dit het tot die Bulls se agterspeler-plaasvervanger Manie Libbok se doodsnikdrie gelei en die Bulls kon tot 24-23 nader skuif.

Wees verseker, die bonuspunt wat die Bulls pasella gekry het, kan met die oog op die uitspeelrondes nog baie beroeringe meebring.

Kom ons kyk na die statistieke: Die Stormers het met minder besit 620 m met die bal gevorder teenoor die Bulls se 458 m.

Die Stormers moes 145 duikslae uitvoer, waarvan hulle met 32 misluk het. Die Bulls het 117 keer geduik en 28 keer gemis.

Dis mos nie goed genoeg op dié vlak nie en dit sluit albei spanne in.

Dan het die Stormers 32 keer geskop en die Bulls 34 keer. Soms was dit doelloos en te diep.

Maar nou ja, dis seker maar alles deel van die afrigters Pote Human en Robbie Fleck se wedstrydplanne.

Eers genoeg gekla.

Wat belangrik is, is dat die Stormers drie keer gedruk het en die Bulls twee keer.

Pollard se korrel (behalwe daardie laaste strafskop) was reg ingestel en hy was baie afgerond. Só ook moet die vurige RG Snyman ʼn pluimpie kry.

Eben Etzebeth het ná ʼn lank ruk langs die kantlyn weer speelkans gekry en die wedstryd voltooi.

Dan het Herschel Jantjies ook groot indruk gemaak.

Dalk kla ons te veel met die wit brood onder die arm.

Puntemakers: Stormers 24 (14): Drieë: Sergeal Peterson, Seabelo Senatla, Herschel Jantjies. Doelskoppe: Jean-Luc du Plessis (2). Josh Stander. Strafdoel: Stander.

Bulls 23 (9): Drieë: Ivan van Zyl, Manie Libbok. Doelskop: Handré Pollard (2). Strafdoele: Pollard (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

46 Kommentare

jongste oudste gewildste
Storm-orkaan

Wat sê die grootbek Bulle nou? Lekker verloor ne? Kry vir julle

Maak stormers almal Bokke

Nou is die Kaap weer Hollants! Lekker Stormers. Jule het die Bulletjies vernietug

Babertondaisy

Storm orkaan gooi nog ‘n kraantjie. Een punt wen vir die windjies in die bulle se swakste game van die jaar. Bulle het die wedstryd op ‘n skinkbord gegee. Bulle op hulle beste 40-3 gatskop. Nee wat nie vergelykbaar nie. Maar Stormers het gewen so ons se geluk. Hul kanse beter gebruik.

alwyn burger

Wraak!!?. ñ Gesukkel en ñ gestampkar !

willie

skrik die flooubulle nou eers wakker julle het gedink moet nie dink