Stormers net te goed vir die Ospreys

’n Sterk vertoning in die eerste helfte het gesorg dat die Stormers vir die Ospreys met 29 – 13 geklop het. Foto: Hansie Linde.

Waar die Bulls vroeër hul wedstryd in die tweede helfte gewen het, het die Stormers meer as genoeg in die eerste helfte gedoen om die Ospreys met 29 – 13 in Kaapstad te oorrompel.

Die bonuspuntsege beteken dat die Kapenaars nou sesde op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer is en hulle is ongetwyfeld binne trefafstand van Edinburgh (44 punte) en Munster (47 punte).

Manie Libbok het ’n uitstekende vertoning in die no. 10-trui gelewer en hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Voeg daarby Leolin Zas se driedrukvermoë, Evan Roos se krag en Deon Fourie se balsteelvermoë en die tuisspan het hopeloos te veel skietgoed vir die Ospreys gehad.

Die Kapenaars het vier drieë in die wedstryd gedruk. Foto: Hansie Linde.

Die tafel is nou gedek vir ’n watertand-ontmoeting volgende week met die Bulls in Kaapstad.

Ja, net ’n rukkie gelede was ’n mens effens moeg vir plaaslike derby-wedstyde, maar die onlangse vertonings teen oorsese spanne laat die rugbyvlam sommer weer helder brand.

Ranglyspunte is immers op die spel en selfs al was die Stormers gisteraand nie in die tweede helfte op hul heel beste nie, is hulle beslis nou ’n krag waarmee daar rekening gehou moet word.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Leolin Zas (2), Paul de Wet en Adre Smith. Doelskoppe: Manie Libbok (3). Strafskop: Libbok.

Ospreys: Drie: Max Nagy. Doelskop: Gareth Anscombe. Strafskoppe: Anscombe (2).

  • Naweekuitslae van die Suid-Afrikaanse spanne:

Sharks 51 – 3 teen Dragons

Bulls 34 – 16 teen Ulster

Lions 15 – 9 teen Edinburgh

Stormers 29 – 13 teen Ospreys

  • Jongste VRK-punteleer:
  1. Leinster: 60 punte
  2. Ulster: 50 punte
  3. Glasgow Warriors: 50 punte
  4. Munster: 47 punte
  5. Edinburgh: 44 punte
  6. Stormers: 43 punte
  7. Bulls: 42 punte
  8. Sharks: 41 punte
  9. Connacht: 32 punte
  10. Scarlets: 32 punte
  11. Ospreys: 30 punte
  12. Lions: 30 punte
  13. Benetton: 24 punte
  14. Cardiff: 23 punte
  15. Dragons: 11 punte
  16. Zebre: 2 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.