Stormers op hul hoede vir Tigers se Bokke

Handré Pollard in aksie vir Leicester Tigers. (Foto: X/Leicester Tigers)

Die Stormers kan Sondag teen Handré Pollard en Jasper Wiese te staan kom wanneer die Kapenaars in ʼn Kampioenebeker-wedstryd teen Leicester Tigers op Welford Road uitdraf.

Die twee Springbokke, wat in Oktober die Webb Ellis-trofee in Parys omhoog gehou het, lewer deesdae weer indrukwekkende vertonings vir hul Engelse klubspan.

Veral Pollard het onlangs die hoofopskrifte gehaal ná sy komkommerkoel skopvertonings ʼn deurslaggewende rol in die Bokke se Wêreldbeker-sukses gespeel het.

Die 29-jarige losskakel het nie met ʼn enkele stelskop in die Suid-Afrikaners se uitspeelwedstryde op die Stade de France skeefgekorrel nie.

Pollard het 33 punte in die rugbyskouspel aangeteken. Dit sluit in sy vyf punte teen Frankryk in die kwarteindstryd, sy agt punte teen Engeland in die halfeindstryd en natuurlik al 12 van die Bokke se punte in die eindstryd teen Nieu-Seeland.

Sy visier is ook nie sommer uitgestel wanneer hy agter die Tigers-skopkelkie aantree nie, terwyl hy ook die toutjies in die Engelsmanne se agterlyn trek.

Jasper Wiese (Foto: X/Springbokke)

Daarteenoor moet verdedigers gereeld bontstaan wanneer Wiese die bal in die hande kry. Die sterk agtsteman het met tye meer trefkrag as ʼn wafferse stormram en hy kan beslis veldgebied vir sy span wen.

“Leicester is ʼn span wat goeie rugby speel en ons sien uit na die uitdaging om weg van die huis teen hulle te speel,” het Norman Laker gesê.

Die Stormers se assistent-afrigter het ook die spel van Pollard en Wiese uitgesonder.

“Die Tigers se strukture is beslis in plek en hulle speel goed saam met Handré; hy is in beheer van dinge net soos by die Bokke. Terselfdertyd is Freddie Steward op heelagter en Jasper ook gevaarmanne.”

Volgens Laker kan daar ʼn paar opwindende tweestryde wees: Wiese en Evan Roos het immers al twee ʼn oog op die Springbokke se no. 8-trui.

Die wedstryd begin Sondag om 17:15 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.