Stormers sal nie sommer van meesterplan wyk

(Foto: Hansie Linde)

Die Stormers is bekend vir hul aanvallende en opportunistiese spel. Hulle het byvoorbeeld 107 punte meer as Munster dié seisoen aangeteken.

Maar ʼn eindstryd begin ongetwyfeld op ʼn skoon bladsy en die Kapenaars sal op hul hoede vir die Ierse aanslag moet wees.

Twee uitspeelwedstryd-oorwinnings weg van die huis sit immers nie in enige span se broek nie – veral nie as daardie seges teen die Glasgow Warriors en Leinster was nie.

Angelo Davids druk een van die Stormers-drieë. (Foto: Hansie Linde)

In teenstelling met die Stormers se aanvallende flair is een van Munster se groot sterk punte ongetwyfeld sy verdediging.

Dit kan dus as’t ware ʼn geval van ʼn onstuitbare krag teen ʼn onbeweegbare verset wees.

“Ons het baie respek vir Munster en die waarheid is dat ons hulle nog nooit kon klop nie. Ons is dus baie opgewonde om op ons tuisveld te speel, maar terselfdertyd weet ons dat ʼn baie groot uitdaging op ons wag,” het John Dobson gesê.

Die Stormers-afrigter het bygevoeg dat sy span nie sommer van sy aanvallende meesterplan sal afwyk nie.

“Dit beloof om ʼn ongelooflike ervaring te wees; nie net vir ons as rugbyspan nie, maar ook vir ons ondersteuners en vir Kaapstad. Ons sal ons bes doen om die wedstryd te geniet en die soort rugby te speel wat ons tot hier gebring het.”

Die eindstryd begin vandag om 18:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Spanne:

Stormers: Damian Willemse (heelagter), Angelo Davids (regtervleuel), Ruhan Nel (buitesenter), Dan du Plessis (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Hacjivah Dayimani (flank), Deon Fourie (flank), Marvin Orie (slot), Ruben van Heerden (slot), Frans Malherbe (stut), Joseph Dweba (haker) en Steven Kitshoff (kaptein en stut). Plaasvervangers: JJ Kotze, Ali Vermaak, Neethling Fouché, Ben-Jason Dixon, Willie Engelbrecht, Marcel Theunissen, Paul de Wet en Clayton Blommetjies.

Munster: Mike Haley (heelagter), Calvin Nash (regtervleuel), Antoine Frisch (buitesenter), Malakai Fekitoa (binnesenter), Shane Daly (linkervleuel), Jack Crowley (losskakel), Conor Murray (skrumskakel), Gavin Coombes (agtsteman), John Hodnett (flank), Peter O’Mahony (kaptein en flank), Tadhg Beirne (slot), Jean Kleyn (slot), Stephen Archer (stut), Diarmuid Barron (haker) en Jeremy Loughman (stut). Plaasvervangers: Niall Scannell, Josh Wycherley, Roman Salanoa, RG Snyman, Alex Kendellen, Craig Casey, Ben Healy en Keith Earls.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kragaap ·

Lyk my Munster se verdediging meesterplan het die fut uit die Stormers geduik. Saam met uitstekende skop en lug taktiek het hul die Stormers se wedsyryd plan gesmoor en gewag vir die geleentheid om die wenpunte aan te teken. Munster is definitief ‘n goed afgerigte span wat weet hoe om hul stempel op ‘n wedstryd af te druk.

SjN ·

Die Stormers meesterplan het duidelik nie gewerk nie, die oomblik was te groot en hul moet net hulself blameer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.