Stormers se aspirasies kry ʼn knou

Die Stormers se aanslag om die voorste Suid-Afrikaanse span in die Superreeks te word, het ʼn kwaai slag gekry toe hulle Saterdag teen die Chiefs slae gekry het.

In ʼn wedstryd waar die Stormers selde gelyk het of hulle ʼn drie sal druk, het die besoekers uit Hamilton met 15-9 gewen.

Dit was ʼn welverdiende oorwinning. Hulle verdediging was uitstekend, hulle het beter opsies uitgevoer met die meer en beter besit van die bal, en hulle het twee drieë gedruk.

Die een was ʼn strafdrie na die soveelste kragskrum, wat die gevaarligte vir Rassie Erasmus en die Springbokke laat flikker. Dit was net ná Steven Kitshoff vervang is, maar die Stormers is toe reeds ʼn paar keer in die skrums onder druk geplaas met Kitshoff en Wilco Louw twee van die voorlopers om in die Bokskrum te sak.

Die Chiefs se skrumwerk was veral indrukwekkend as hulle probleme met voorrybeserings in ag geneem word.

Die Stormers was merendeels planloos, hulle agterlyn is doodgesmoor en vir die Kaapse toetsaanspraakmakers was daar sekerlik nie ná die wedstryd baie regmerkies in Erasmus se toetsboekie nie.

In die wedstryd, wat nooit werklik aan die gang gekom het nie, het die besoekers se voorspelers die wedstryd beheer in die vele skrums en lynstane.

Die hantering aan albei kante het veel te wense gelaat en bygedra tot die middelmatigheid van die kragmeting.

Puntemakers –

Stormers (3) 9: Strafdoele: Damian Willemse (2), SP Marais.

Chiefs (5) 15: Drieë: Anton Lienert-Brown, Strafdrie met doelskop. Strafdoel: Damian McKenzie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
SjN

Shame, Stormers kan nie druk hanteer nie en wenkultuur ontbreek, wyn en snoek gaan suur wees vanaand.

DHK

Verlede week was ‘n sekere Stormer ondersteuner ietwat grootdoenig toe sy span die Bulle geklop het op Nuweland. Iets van die swakste en laaste span op die SA konferensie se punteleer? Nietemin, die “magtige” Stormers kon nie eens ‘n bonuspunt verdien in daardie wedstryd nie. Swak? Vandag het hulle pakslae gekry teen die vierde beste span in die NS konferensie. Swak?? Gewis, dis uiters swak. Boonop met ‘n strafdrie teen hulle na hul “magtige” pak voorspelers vermorsel is deur die Chiefs. En skielik is die Stormers die swakste EN laaste span in die SA konferensie. Hoogmoed kom maar altyd voor… Lees meer »

Johan

Hoe kon Fleckie nie vir Duvenhage eerder vervang het nie of hom laat weet het dat sy doellose “box kicks” die besit weggee ipv behou. Sonder die bal in die hand teen die Chiefs het jy geen kans nie.

Peet

Hierdie was verseker die swakste wedstryd wat nog hierdie seisoen gespeel is.

rollie

Baie interessante eindtelling. Ek wonder hoeveel kenners sou so ‘n lae telling voorspel het. Die NS spanne klop ons spannetjies darem maar maklik hier in SA. Dan wonder ons hoekom ons bokkies ook maar nie in SA teen NS die pyp rook nie. Net nie goed genoeg nie.