Stormers se dissipline eenvoudig onaanvaarbaar

ʼn Derde opeenvolgende neerlaag vir die Stormers, met swak dissipline wat hulle ʼn rooikaart en twee geelkaarte gekos het, was die kenmerke van ʼn baie middelmatige wedstryd  op Nuweland waar die Lions hulle voorsprong op die punteleer behou het.

Die Lions het in die tweede helfte lank oorheers en aangeval, maar telkens in die Stormers se 22 m-gebied gaan oortree. Hulle het nietemin uiteindelik genoeg gedoen om met 26-23 te wen.

Raymond Rhule is met ʼn halfuur se speeltyd oor afgestuur toe hy Ruan Combrinck met die elmboog teen die kakebeen getref het toe dié in die lug was en Rhule nie werklik om besit meegeding het nie. JJ Engelbrecht, wat in die eerste helfte ʼn geelkaart gekry het oor ʼn gevaarlike duikslag, was baie gelukkig dat hy nie met ʼn rooie gestraf is toe hy in die tweede helfte ʼn teenstander in ʼn kopklem uit die losskrum getrek het nie.

Dit was ongetwyfeld ʼn tweede geelkaart-oortreding wat sou beteken het hy word met ʼn rooie gestraf.

Elton Jantjies is drie keer laat geloop en die Stormers se Jaco Coetzee is ná ʼn spanwaarskuwing met ʼn geelkaart gestraf.

Dié soort minagting vir die reëls en gevaarlike spel dui daarop dat daar iewers ʼn skroef los is in die Stormerskamp. Dit het hulle moontlik die wedstryd gekos nadat hulle in die eerste helfte die beste span was en rustyd met 17-7 voorgeloop het.

Is daar langs en op die veld dan nie leierskap om dié soort dinge aan te spreek en te help beperk nie?

Terug by die rugby: Die Stormers was beter in  die skrums, hulle het met meer aggressie in die los ingeklim en teen die einde met dryfwerk oor ʼn losbal byna die oorwinning beklink, maar het agterlangs nie oortuig nie.

Die Lions se bekende hardloopwerk is deur onsekere hanteerwerk en swak opsies in die wiele gery, en hulle dissipline met tien strafskop-oortredings voor rustyd het hulle van heelwat momentum weerhou.

Die Stormers het tot dusver net vyf van hulle 14 wedstryde gewen, maar die bonuspunt wat hulle verdien het, plaas hulle een punt bo die Bulls op die punteleer. Die Kapenaars het egter ʼn wedstryd meer gespeel en moet nog in  Argentinië teen die Jaguares uitdraf.

Puntemakers ‒

Stormers (17) 23: Drieë: Dewaldt Duvenage, Raymond Rhule. Doelskoppe: Jean-Luc du Plessis (2). Strafdoele: Du Plessis (3).
Lions (7) 26: Drieë: Nic Groom, Corné Fourie (2), Madosh Tambwe. Doelskoppe: Elton Jantjies (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

‘n Teleurstellende wedstryd.Wat duidelik is dat daar tans nie een Suid Afrikaanse span is wat ‘n kans het om die eindstryd te haal en die beker te wen.

rollie ·

Stem saam. Ons rugby is swak. Ons spanne is nog swakker as verlede jaar (behalwe miskien die Bulls wat ook maar alles verloor).

Wesley ·

Super Rugby is dood. Tyd ons Europa toe trek. Om teen die NZ kragte te speel maak ons nie beter nie en SA fonds SANZAAR, terwyl ons bankrotte unies nie kan byhou met talent hier in SA hou nie. Tyd ons Europese ligas die groot geld verdien, want al slaag dit nie sal dit n betet idee wees om hier aan te ploeter.

Dirkie ·

Stem saam, ons speel 90% teen Aus en NZ spanne. Dan nog Julie/ Aug weer teen hulle in Four Nations (Arg) mos deel daaraan. Ons spanne gaan meer lewe toon teen Europese spanne. Dan gedurende Internasional games Sal ons dalk beter vertoon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.