Stormers se foute kos hulle duur in taai kwarteind

Die Stormers se Superrugby-aanslag het Saterdagmiddag op Nuweland tot ʼn einde gekom in ʼn taai wedstryd sonder veel hardlooprugby wat met 17-11 deur die Chiefs gewen is.

In verlede jaar se kwarteind, ook op Nuweland, het die Chiefs met 60-21 gewen.

Van die verwagte hardlooprugby het daar nie veel gekom nie. Goeie keerwerk en foute op verkeerde oomblikke het daarvoor gesorg, en ná 20 minute was daar steeds geen telling nie. Teen rustyd het die Chiefs met drie strafdoele teen een voorgeloop.

Dit was nietemin ʼn opwindende wedstryd omrede die punteverskil selde groot was, en die spanne in elke opsig goed teen mekaar opgeweeg het. Kyk jy na die statistiek, is daar omtrent ewe veel gehardloop, spelers geklop, duikslae gemaak en gemis, en balle by die afbreekpunte gewen of gesteel.

Foute op die aanval deur die Stormers het hulle moontlik die wedstryd gekos. Telkens is belowende bewegings deur swak aangeë, middelmatige opsies en onnodige foute gekelder.

Die vernaamste was moontlik die enigste drie van die Chiefs wat vyf minute voor die einde gedruk is. Dillyn Leyds het sy pos op die vleuel verlaat en na binne beweeg waar die Chiefs se agterspelers effens gebondel was. Die wenspan se enigste drie is toe deur Shaun Stevenson gedruk en is ná ʼn prag-aangee van die Chiefs se kaptein Aaron Cruden moontlik gemaak.

Die Chiefs moet nou aanstaande naweek in Christchurch teen die Crusaders in die halfeind speel.

Puntemakers

Chiefs (9) 17: Drie: Shaun Stevenson. Strafdoele: Damian McKenzie 4.
Stormers (3) 11: Drie: Siya Kolisi. Strafdoele: SP Marais 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Realis ·

Siestog, soos altyd struikel die Stoom-Verloorders weereens in die pylfak. En soos altyd, wen hulle die Superreeks in hul verbeelding maar nié op die rugbyveld nie… Ai tog, my hart bloei vir die arme ou bloedjies…

Realis ·

Nee ou Peet, ek is net keelvol vir die Stoom-Verloorders (Stormers) se arrogante ondersteuners en vir hul span se vele vuil spelers… Sê eerder sies daarvoor!

Kosie ·

Daar is ‘n verskil tussen vuil en hard “realis”. Ouens soos Etsebeth is harde spelers. Spelers soos Elstadt is net dom-astrant. Steeds beter as die blou nulle wat hulle behoort te skaam.

Realis ·

Ag Kosie, sien dis wat ek bedoel. Etsebeth is ‘n harde maar vuil rugbyspeler, Elstadt is nie dom-astrant nie – hy probeer sy tekortkominge verbloem deur af-die-bal geniepsigheid soos trouens 80% van die Stoom-Verloorders doen. Die “blou nulle” se naam is steeds drie keer teen nul van die Stoom-Verloorders te sien op die Supertrofee. Na agt of nege probeerslae kon die Stoom-Verloorders net een uitklopwedstryd daarvan in 2010 wen. Maar elke jaar wen hulle die Supertrofee orals behalwe op die rugbyveld.

Lol ·

Ek is die stereotipe arrogante Stormers ondersteuner sonder voortande wat jou irriteer. Maar indien die Bulls ( let wel ek noem hulle nie “nulle” nie) teen ‘n NZ span sou speel ondersteun ek hulle .

LV ·

Ek verneem die behuisingskrisis in die Kaap het drasties vererger met al die Stormerondersteuners wat oppad terug is aarde toe!

Lol ·

Nee dus juis mense wat na een vakansie in die Kaap , Kaap toe trek wat die behuisingsprobleem is. En dis hoekom Stormers tuiswedstryde eintlik wegwedstryde word.

vrikie ·

Probleem met die stormers op nuweland is dat alle wedstryde daar teen ‘n NZ span ‘n weg wedstryd is

Henk Stander ·

Yster, maar yster game! Die Stormers het wraggies ń goeie game gespeel, veel beter as wat ek verwag het.

Groete uit Pretoria.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.