Stormers, Sharks volg wenresep; Bulls brou

Die Stormers volg die wenresep noukeurig, die Sharks hou nogal daarby, maar die Bulls wyk heeltemal daarvan af.

Om suksesvol in die Superreeks te wees, om vir ʼn tuis-halfeindronde te kwalifiseer en om duisende ondersteuners na jou tuisveld (terug) te lok, moet jy jou tuiswedstryde wen, ʼn bonuspunt behaal en jou teenstanders van ʼn bonuspunt weerhou. As jy jou afdeling wen (of tweede eindig) en tussen die topspanne op die algehele puntelys eindig, is jou paadjie uitgestippel.

Dit kry die Stormers tot dusver baie goed reg, veral nadat hulle die Chiefs, wat voor Saterdag saam met die Stormers en Crusaders die enigste onoorwonne spanne was, met 34-26 op Nuweland geklop het. Die Stormers (26) het nou ʼn byna onaanvegbare voorsprong in die eerste afdeling, Afrika 1,  gevolg deur die Cheetahs (9), Bulls (6) en Sunwolves (5). Ek kan nie insien dat een van dié drie spanne die Stormers sal inhaal nie, al moet die Kapenaars nog oorsee teen die Nieu-Seelandse hardebaarde speel.

Saterdag was daar ʼn rapsie meer as 34 000 toeskouers op Nuweland. Wanneer die Stormers komende Saterdag teen die Lions speel, sal daar na alle waarskynlikheid meer as 40 000 ondersteuners wees. Blou vlae, juigende en jouende ondersteuners. Wenrugby is alles.

Die Sharks (22 punte) het in die ander Suid-Afrikaanse afdeling, Afrika  2, tot binne ruikafstand van die Lions (23) gekruip nadat hulle die Jaguares (19) met 18-13 op Kingspark geklop het. Geen bonuspunt vir die Sharks nie, net een vir die Jaguares. Iets haper nog.

Die Sharks het nog nie heeltemal oortuig nie, tog sal hulle na alle waarskynlikheid  die uitkloprondes haal. Maak die beseerde Pat Lambie só ʼn groot verskil agterlangs?

Die Sharks het sewe wedstryde en die Lions net ses gespeel, maar albei is in ʼn veel beter posisie as die Jaguares, veral as hulle met die geelkaart-skouponie, Nicolás Sánchez, volhard.

Dié talentvolle speler het hom sy soveelste geel kaart op die hals gehaal en dit begin al hoe meer lyk of hy met sy toneelspel eerder op ʼn sokkerveld hoort.

Ek kry ook die gevoel die Argentyne gebruik die Superreeks uitsluitlik in belang van die Argentynse Poemas, om diepte uit te brei, om spelers meer ervare te maak, om hul spelpeil en fiksheidvlakke te verhoog.

Die Bulls?

Vrydag reeds het Pale Toe! berig: “Maak gereed vir nog ʼn skok …”

Ons kon sien dat die Bulls op dieselfde afdraande paadjie is as die Bokke verlede jaar.  Tog het dit die melk suur saam met die graanvlokkies gemaak toe die Sunwolves met 21-10 gewen het.

“Geen kontensie, geen beheer,” word daar reeds op Loftus gesing in afwagting op die span om huiswaarts te keer.

Maar dis dalk reeds te laat, die skade is gedoen, die ondersteuners is vies en koop nie meer in nie.

Dis weer sulke tyd, vir selfondersoek, ontleding, om pa te staan vir die probleme.

Is daar hoop? Daar is altyd hoop in rugby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Dit is mos rugby. Dit was net jammer dat Pyper wat eensydig was. As al die S.A. Spanne soos die Stormers speel, sal dit beter met die Springbokke gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.