Stormers skop op ’n wennoot teen Lions af

(Foto: Stormers Rugby)

As gisteraand se kragmeting tussen die Stormers en die Lions met ’n toespraak op ’n troue vergelyk kan word, dan sou dit waarskynlik een wees waar die arme strooijonker maar hier en daar na lugborrels gehap het.

Want behalwe vir die tradisionele “lank sal hulle lewe” en ’n geykte grappie of twee soos “drieë by dosyne”, is daar nie eintlik veel om oor die wedstryd te sê nie.

Ja, die Stormers het – met hul sewe Wêreldbeker-Bokke – die kragmeting met 23 – 17 op Nuweland gewen en ja, die Lions kan veral trots wees op iemand soos Burger Odendaal se spel; maar dit was nou weer eens nie ’n vertoonwedstryd vir ’n volle 80 minute se aanskoulike rugby nie.

Dan sal Rasta Rasivhenge se besluit om ’n Stormer-oortreding laat in die wedstryd net met ’n harde “stop dit!” te straf ook vir sommige Lions-ondersteuners laat kopkrap.

Maar kom mens begin by die begin.

Die Kapenaars het verlede week ’n loslootjie geniet en die Johannesburgers het hieruit munt geslaan.

Elton Jantjies het ’n strafskop tussendeur die pale gestuur en die blitsige Rabz Maxwane het ’n goeie Lions-spandrie afgerond.

Daarteenoor het die Stormers se Damian Willemse – ’n losskakel wat kwaai met sy stelskoppe kan sukkel – met twee strafskoppe van sy eie in die eerste helfte geantwoord.

In die tweede helfte het Steven Kitshoff en Frans Malherbe die oorhand in die skrums begin kry en die tuisspan is met Rikus Pretorius en Dan du Plessis se drieë beloon. Vir so 20 minute in die tweede helfte was die Stormers onstuitbaar.

Die Lions was egter deurgaans op soek na aanvalsgeleenthede en laat in die wedstryd het Odendaal met die bal weggebreek om vir Jantjies op ’n briljante wyse weg te stuur. Willemse het skeef met ’n strafskop gekorrel en skielik was die spreekwoordelik Lions-kat in die Stormers se spreekwoordelike duiwehok.

Die Johannesburgers het alles in die stryd gewerp om nog ’n drie te druk, maar die Kapenaars se verdediging het saam met Rashivenge se hulp (soos wat die stoere Lions-ondersteuners sal mor) sterk gestaan.

Toegegee, dit was darem nie die moeilikste toespraak in ’n rugbytroue se geskiedenis nie.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Rikus Pretorius en Dan du Plessis. Doelskoppe: Damian Willemse. Strafskoppe: Willemse (4).

Lions: Drieë: Rabz Maxwane en Elton Jantjies. Doelskoppe: Jantjies (2). Strafskop: Jantjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Russ1 ·

Dit was ook nie ‘n vertoonwedstyd vir onpartydige skeidsregters wat hulle reels ken nie, en dit sluit die tv skeidsregter in

Frans ·

Dit was eintlik pateties om te sien hoe die skeidsregter die wedstryd in die doodsnikke gehanteer het.
Anders as die Sharks wat die Leeus met goeie verdediging uitgehou het,laat die skeidsregter die Stormers met moord wegkom.In die videomateriaal kan ‘n mens sien hoe ‘n Stormer agter die losgemaal aan ‘n speler om lewe en dood vasklou.Uiteindelik kom die Stormershaker die spulletjie van die kant af reg,voor die assistent en Tv skeidsregter in en gaps die bal,sodat die Stormers dit kan uitskop.

Dit laat ‘n mens nogal aan die Marx-Etsebeth episode dink. Die Stormers. slot klou solank aan die bal vas,met Marx wat dit probeer wegneem-dat ek ‘n koppie koffie kon maak en terugkom en nog steeds dieselfde TV-beeld sien sonder dat ek die uitsending ‘gepause’ het.Nouja in rugby gaan dit oor wat Boy Louw gesê het:’Looks at the scoreboard’ en is dit wat tel.
Vervang tog maar die assistente met mooi meisies want die kan ook sien waar die bal uit is en dalk gedra die manne hul beter.

koos10 ·

Ek kyk nie meer SA Rugby of Krieket nie, en is nie spyt nie en ook nie die enigste een nie. Ek sien wel dat daar nog blankes is wat kyk, en dis julle volste reg, maar ek is moeg dat my dam se eende deur al wat politikus is vertrap word, daarom is dit my stille verset. Dis eintlik lekker om op ‘n Saterdagmiddag saam met my kinders tuin te maak en my eie groente te kweek.

Ek is net baie oortuig dat alle politik behepte SA sportsoorte bly is oor COVID, want sien as toeskouers toegelaat word, sou dit duidelik blyk dat ek nie die enigste een is wat aan stille verset glo nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.