Stormers slaag hul Loftus-karaktertoets, sê Dobson

Die Stormers het die Bulls op Loftus Versfeld geklop. Foto: GB Jordaan.

Die Stormers het gister nie net hul vyfde oorwinning op ʼn streep teen die Bulls in die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde behaal nie, maar het ook ʼn groot karaktertoets geslaag toe hulle die Pretorianers met 23 – 19 op ʼn stampvol Loftus Versfeld geklop het.

Die tuisspan het veral sterk in die eerste helfte vertoon en John Dobson is trots op die Kapenaar se veggees.

“Die Bulls het vir die grootste gedeelte van die eerste helfte die septer geswaai en ons het hopeloos te veel strafskoppe afgestaan. Met die telling 12 – 3 in hulle guns was ons beslis onder druk, maar ons het pleinweg net geweier om die handdoek in te gooi,” het die Stormers-afrigter gesê.

Hy is veral trots op sy span se verdediging in die doodsnikke van die wedstryd toe die Bulls met mening die een aanval na die ander op hul doelgebied geloods het.

Volgens Dobson het die Stormers toe uitstekend verdedig en ʼn mens kon sien dat hulle desperaat was om die wedstryd te wen.

Die Kapenaars is tans tweede op die amptelike punteleer met 54 punte, terwyl die Bulls nou sesde met 41 punte is.

“ʼn Mens wil die beste span in Suid-Afrika wees en ons is op koers om daardie doelwit te bereik. As ons die Suid-Afrikaanse afdeling van die kompetisie vir twee jaar in ʼn ry kan wen sal dit beslis ʼn klop op die skouer vir die unie en die span wees.”

Intussen meen Jake White dat sy span nie konsentrasie verloor het nie toe hulle daardie voorsprong in die eerste helfte geniet het.

“Ek dink nie die ouens het iets verkeerd gedoen nie. Om ʼn lang storie kort te maak; die Stormers het toe ʼn drie gedruk en skielik was die telling 12 – 10. Dit is maar hoe dinge soms uitdraai en ek glo nie hulle het hul voet doelbewus van die versnelpedaal gehaal nie,” het White gesê.

VRK-punteleer:

  1. Leinster: 66 punte
  2. Stormers: 54 punte
  3. Ulster: 44 punte
  4. Glasgow Warriors: 43 punte
  5. Munster: 42 punte
  6. Bulls: 41 punte
  7. Sharks: 38 punte
  8. Connacht: 35 punte
  9. Cardiff: 34 punte
  10. Benetton: 34 punte
  11. Edinburgh: 31 punte
  12. Ospreys: 29 punte
  13. Scarlets: 27 punte
  14. Lions: 24 punte
  15. Dragons: 18 punte
  16. Zebre: 8 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.