Stormers soek stewige vertoning teen Leinster

 Foto: Hansie Linde.

Warrick Gelant, Leolin Zas, Evan Roos, Deon Fourie en Steven Kitshoff: Groot name vir ’n groot wedstryd.

Die Stormers speel die naweek teen Leinster in Kaapstad en met ’n tuishalfeindstryd wat wink, sal John Dobson en kie oorgehaal wees om met ’n stewige vertoning teen die Ierse besoekers vorendag te kom.

Ja, Leinster het weliswaar met ’n verswakte span na Suid-Afrika gereis, maar hulle het steeds verlede Saterdag hul man teen ’n Springbok-belaaide Sharks-vyftiental gestaan.

“Daar is ’n moontlikheid – en ek wil nie nou die kar voor die perde inspan nie – dat ons onder die voorste twee spanne in die reeks kan eindig en ’n tuishalfeindstryd aanbied. Dit sal die wêreld vir ons beteken en ons is so honger soos altyd om ’n wedstryd te wen,” het Dobson gesê.

Volgens die Stormers-breier is dit eintlik hartseer dat Leinster-sterre soos Johnny Sexton en Tadhg Furlong nie deel van die aksie sal wees nie.

“Ons is egter steeds maar net te bewus van hoe gevaarlik hulle kan wees. En, wanneer ’n mens vanuit ’n rugbyoogpunt na dinge kyk, speel die nommereen- en nommertweespan op die punteleer teen mekaar en daar is baie op die spel.”

Ná ’n rits onoorwonne wedstryde en met ’n baie indrukwekkende agterlyn kan die Kapenaars net te veel skietgoed vir die besoekers hê.

Ja, dit is seker ’n vreemde vergelyking, maar die Stormers sal die naweek ’n bietjie soos Van Hunks wil maak en die pyp teen Leinster rook.

Die wedstryd begin Saterdag om 18:15 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Stormers: Warrick Gelant (heelagter), Seabelo Senatla (regtervleuel), Ruhan Nel (buitesenter), Damian Willemse (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Hacjivah Dayimani (flank), Deon Fourie (flank), Marvin Orie (slot), Adré Smith (slot), Frans Malherbe (stut), JJ Kotze (haker) en Steven Kitshoff (kaptein en stut). Plaasvervangers: Wilmar Arnoldi, Brok Harris, Neethling Fouché, Salmaan Moerat, Junior Pokomela, Ben-Jason Dixon, Paul de Wet en Juan de Jongh.

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster: 61 punte
  2. Stormers: 52 punte
  3. Munster: 51 punte
  4. Sharks: 51 punte
  5. Ulster: 51 punte
  6. Glasgow Warriors: 50 punte
  7. Edinburgh: 49 punte
  8. Bulls: 48 punte
  9. Scarlets: 43 punte
  10. Connacht: 36 punte
  11. Ospreys: 34 punte
  12. Lions: 32 punte
  13. Benetton: 24 punte
  14. Cardiff: 23 punte
  15. Dragons: 16 punte
  16. Zebre: 4 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Baie belangrike wedstryd, sterkste span in die kompetisie maar as die Sharks hulle kon klop, kan die Stormers ook. Bulls het die maklikste paar wedstryde oor van die SA spanne. Ons behoort 3 SA spanne in die uitspeelrondes te he. Lyk of Leinster heelbo gaan eindig, gaan bloedsweet kos om hulle in Ierland te klop veral as al hulle toetsspelers speel.

Manie ·

Jy is reg Piet, ek glo dat Leinster dit ook so beplan het, is gerieflik voor, so gee die groot kanonne ‘n ruskans en terselfdertyd ontwikkel jy ander spelers. Sou dieselfde gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.