Stormers storm voort, Jaguares vat ook raak

Die agterdeur is steeds oop vir die Stormers. (Foto: DHL Stormers via Twitter)

Die Stormers het nog ʼn paar treë geplavei in hul opdraande paadjie om vir die uitspeelrondes van die Superrugby-reeks te kwalifiseer, nadat hulle die Highlanders Saterdagmiddag op Nuweland met 34-22 geklop het.

Die agterdeur is steeds oop, want die Stormers, wat nou met 30 ligapunte spog, moet nog teen die Lions (Ellispark), Sunwolves en Sharks (albei op Nuweland) speel.

Die twee derbywedstryde gaan uiters taai wees, want daar is net soveel op die spel vir die Lions en Sharks, maar dis byna ʼn gegewe dat die Stormers volpunte teen die sukkelende Sunwolves sal behaal, wat nou heeltemal belangstelling verloor het.

Die groot vraag is of die Stormers genoeg skietgoed het om enduit by te bly.

Ja, word daar in die Kaap geglo, daar is ʼn hele paar positiewes: Die Stormers het die bal rondgegooi, hul pak het oorheers en die kaptein, Siya Kolisi, het sy beste peil herwin.

Saam met ʼn stewige voorry, ysterslotte in Cobus Wiese, Pieter-Steph du Toit en Eben Etzebeth, en voortreflike en fisieke losvoorspelers, is die nodige plofkrag daar.

Agterlangs tree die skrumskakel, Herschel Jantjies, al hoe sterker na vore, Damian de Allende kom, soos ons al jare lank weet, byna elke keer (soms te veel) oor die voordeellyn en Seabelo Senatla se vaart is ʼn baie groot pluspunt.

Ja, hulle druk nog nie genoeg drieë nie, hul selfvertroue is nog nie wat dit moes wees nie, maar dit sal dwaas wees om die Stormers te onderskat, al is hulle ses punte agter die Jaguares (36 ligapunte) wat die voorloper in die SA groep is.

Volgens Sanzaar se statistiek het die Stormers Saterdag verder met die bal gevorder (541 meter teenoor 470), 26 verdedigers teenoor 15 geklop, net 15 van hul 108 duikslae teenoor die Highlanders se 26 van 97 gemis en hul algemene speldissipline was goed.

Maar iets ontbreek wat van hulle ʼn kampioenspan sal maak.

Dit gaan baie verg op alle vlakke, ook in die raadsale, want daar sal koppe bymekaargesit moet word.

Punte: Stormers 34: Drieë: Herschel Jantjies, Siya Kolisi, Cobus Wiese, Jean-Luc du Plessis. Doelskoppe: Josh Stander (3), Du Plessis. Strafdoele: Stander, Du Plessis. Highlanders 22: Drieë: Patelesio Tomkinson, Waisake Naholo, Siate Tokolahi. Doelskoppe: Marty Banks, Dan Hollinshead. Strafdoel. Banks

* In Sydney het die Argentynse Jaguares die sooibrand van sy teenstanders in die Suid-Afrikaanse groep vererger toe hulle die Waratahs met 23-15 geklop het.

Dit was die Jaguares se tweede opeenvolgende oorwinning op toer en met net drie rondes oor, krap hulle lelik in die slaai van die SA spanne, want hulle kan straks bo-aan die groep eindig om dan tuis in die kwarteindronde te speel.

Hulle is ook nou voor in die SA afdeling en dit voorspel gevaar.

Die onbeantwoorde vrae wat die Waratahs moet beantwoord, is waarom ʼn kreeftegang in hul spel posgevat het.

Hulle het immers verlede jaar nog in die halfeindstryd gespeel, maar speel met rukke en stote, soms sonder vuur en begaan baie basiese foute.

Dit laat ʼn mens opnuut wonder of die hele sage rondom Israel Folau, wat sy Waratahs- en Australiese kontrak kwyt is oor sy geloofsoortuigings op Twitter, nie baie daarmee te doen het nie.

Waar die Jaguares met passie speel, hulle lywe vir mekaar op die spel plaas en opwindende rugby opdis, is die Waratahs net ʼn skadu van spanne van ouds.

Punte: Jaguares 23: Drieë: Ramiro Moyano (2). Doelskoppe: Domingo Miotti (2). Strafdoele: Miotti (2). Joacqium Diaz Bonilla.

Waratahs 15: Drieë: Strafdrie (7 punte), Curtis Rona. Strafdoel: Foley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Die Israel Folau geval het die fut uit Rugby Australia se spelers gehaal, veral die polinesiese groep waarvan meeste Christene is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.