Stormers sweet teen Argentyne

stormers-logo-grootAs die Stormers gedink het hulle gaan die besoekende Jaguares Saterdagmiddag maklik op Nuweland klop, het hulle hul misgis.

Die Stormers het die kragmeting 32-25 gewen, maar vir die volle 80 minute was dit ’n armdruk tussen twee spanne wat albei graag ’n oorwinning wou behaal.

Die Kapenaars het die wedstryd begin deur die bal rond te gooi, wat die belofte van opwindende rugby ingehou het.

Effens teen die verloop van die spel, was dit egter die Argentyne wat eerste gaan druk het, toe die haker en kaptein, Agustín Creevy, van ’n perfekte rolmaalbeweging van ’n lynstaan af gaan druk het.

Die Stormers het egter vinnig geantwoord met drieë deur die senter EW Viljoen en die skrumskakel Jano Vermaak.

Van Vermaak gepraat, dié 32-jarige is waarskynlik nou die vinnigste wat hy nog in sy loopbaan was. Daarby is sy oordeel iets wat beslis met ervaring gekom het en hy het ’n groot rol in Viljoen se drie gespeel.

Die besoekers het die Stormers se regtervleuel, Cheslin Kolbe, in die eerste helfte met hangskoppe gepeper, wat hy almal met onderskeiding uit die lug gepluk en daarvan teenaanvalle geloods het.

Met die omdraaislag was die Stormers 17-11 voor, maar belangriker, hulle het momentum en gebiedsvoordeel gehad.

In die tweede helfte het die Jaguares met ’n verwoede aanslag gekom en die Stormers gedwing om vir die grootste deel van die helfte te verdedig. Die besoekers het die bal self rondgegooi wat twee drieë vir die linkervleuel Santiago Cordero beteken het.

Twee geelkaarte in die laaste kwart van die wedstryd vir die Jaguares se flank Pablo Matera en plaasvervanger Matias Moroni het die besoekers van ’n moontlike oorwinning beroof. Een van Cordero se drieë het egter juis in hierdie tydperk met sy twee spanmaats in die koelkas gekom.

Kolbe is na 10 minute in die tweede helfte vervang vir wat na ’n enkelbesering gelyk het. Wêreldrugby se sewesspeler van 2016, Seabelo Senatla,  het sy plek op die vleuel geneem.

Behalwe vir ’n blaps met ’n bal van skop wat voor sy oë in die veld gehop, voordat dit oor die kantlyn gespat het, het Senatla min van die bal gesien. Die male wat hy die bal gehad het, het hy nie ontuis op dié vlak gelyk nie.

Vir die besoekers het Matera die veld vol gespeel en was die heelagter Joaquín Tuculet deurgaans gevaarlik.

Puntemakers –

Stormers (17) 32: Drieë: EW Viljoen, Jano Vermaak, strafdrie (*), SP Marais. Doelskoppe: Jean-Luc du Plessis 2. Strafdoele: Du Plessis 2.
Jaguares (11) 25: Drieë: Agustín Creevy, Santiago Cordero 2. Doelskoppe: Nicolás Sánchez, Santiago Gonzalezi. Strafdoele: Sánchez 2.

(*) Strafdrie tel sewe punte, geen doelskop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

philip ·

Wag todat Stormers oorsee gaan ,ek sien weer probleme vir hul , hul speel net vir 40 minute rugby , val altyd in tweede helfte uit

Frans C ·

Die Stormers is vir die eerste keer getoets en moes uithaal om voor te bly.Dit wys maar net weer dat die ‘n mens nie te veel kan lees in die uitslae van die opwarmingswedstryde nie.

Rina Kotze ·

Mense, die Superrugby word nie in Maart gewen nie, die seisoen is nog lank!

‘n Wen is ‘n wen, veral op jou tuisveld!

Ja, daar is harde werk, maar dis duidelik Robbie Fleck neem dit wedstryd vir wedstryd.

Sterkte Stormers! Ek hou duimvas vir res vd seisoen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.