Stormers teen Cheetahs: Generaal Pienaar trek die toutjies

Ruan Pienaar voor sy besering. Foto: Twitter.

Die Vrystaatse Cheetahs het hul greep op vanjaar se Curriebekerreeks verloor toe die planmakerskrumskakel Ruan Pienaar in Desember beseer is.

Pienaar was Saterdag in die Kaapstad-stadion die generaal wat die Stormers se ondergang in die Voorbereidingsreeks tot uitvoering gebring het toe hy in die tweede helfte opgestuur is.

Sy taktiese skopwerk, vermoë om die spel op te som, die jonger spelers om hom kalm te hou en die regte besluite te neem, was goud werd… wat sonder hom in die Curriebekerreeks ontbreek het.

Die Cheetahs het uiteindelik met 34-33 gewen nadat Frans Steyn die wenstrafdoel oorgeklits het.

Dit was terugbetaaldag, want in die Curriebekerreeks het Tim Swiel die Westelike Provinsie met ʼn strafdoel laat wen.

Dit was die Stormers se eerste wedstryd in die “nuwe” stadion nadat die unie amptelik van Nuweland af oorgeskuif het.

Maar dit was op die ou einde maar ʼn goor partytjie net soos die afsluiting ʼn paar weke gelede op Nuweland toe die Westelike Provinsie ook sy laaste wedstryd daar verloor het.

Maar tog was daar heelwat meer opwinding en het die Stormers nie net staatgemaak om hul teenstanders in die skrums af te knou nie.

Die Cheetahs het Saterdag uiteindelik met 34-33 teen die Stormers gewen. (Foto: Cheetahs Rugby)

Die Stormers het weer in die skrums oorheers en as Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe ook nog terugkeer, kan die teenstanders hulle maar vetsmeer vir nog skrumlesse.

Dan het die 20-jarige Kade Wolhuter getoon dat hy met die regte leiding die Stormers se losskakelprobleme kan oplos. Vergeet daarvan om oorsee vir ʼn kandidaat te gaan  soek. Hy loop op jul eie voorstoep rond.

Vir die Cheetahs was Rosco Specman kookwater en was sy drie drieë pure plesier, so reg uit die Blitsbokke se sewesdagboek.

Frans Steyn se skopwerk pale toe en sy lang kantlynskoppe het die Stormers se moed ook in hul skoene laat sak.

Maar voorlangs was daar ʼn paar krake wat vinnig toegesmeer sal moet word, met of sonder generaal Pienaar.

* Punte: Stormers 33 (26): Drieë: Tristan Leyds, strafdrie (7 punte), Leolin Zas. Doelskoppe: Kade Wolhuter (2). Strafdoele. Wolhuter (4).

Cheetahs 34 (21): Drieë: Wilmar Arnoldi, Rosco Specman (3). Doelskoppe: Frans Steyn (4). Strafdoele: Steyn (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

MakersMark ·

Behalwe vir Specman, Pienaar en Steyn was die Cheetahs maar gemiddeld. Wys eintlik hoe vrot was die province. Te veel foute en swak hantering, daar is voorrye wat vinniger as nel is op senter, en die algemene futloosheid wat deur die spannetjie waai. Nuwe stadion blues en bestuursprobleme gaan nog lank karring.

Anti-Verkramp ·

Lyk my WP het sonder ‘n klomp Bokke gespeel? Nie die wedstryd gesien nie maar blykbaar skrum die nuwelinge ook die manne gaar. Ek hoor ook ons jong losskakeltjie het nogal talent. Goed vir ‘n oefenlopie vir die nuwe outjies. Een puntjie in dit, nie sleg vir ons 2de span nie.

MakersMark ·

Ha ha soveel foute teen ‘n uiterse gemiddelde Cheetah span kon net sowel ‘n sirkustent oor die veld gespan het. Al die springbokke het gewaai agv swak bestuur en finansieele gesukkel. Daai losskakel binnekort op pad uit Europa toe. Net koperkosie en frans oor. Wat help dit om almal pap te skrum maar die agterlyn kan nie ‘n twee aangee beweging aanmekaarslaan nie…..

Frans ·

,n Mens kan nie veel uit die wedstryde wys word nie want dit lyk of die WP en die Leeus die wedstryde
gebruik om hul reserwekrag te toets en nuwe spelers aan senior rugby bloot te stel.

MakersMark ·

Stem saam maar as die trant die afgelope super rugby en CB seisoen ontleed word is dit duidelik die WP is oppad planke toe. Sit daarmee saam die finansieele gemors waarin hulle is, bestuurs binnegevegte, en uittog van senior spelers dan is daar definetief iets uit te leer.

Gert ·

Pienaar is in Oktober al deur die rugbyboef Marco van Staden beseer met totaal onnodige robuuste en onwettige spel. Feite!

MakersMark ·

As Marco ‘n ou raak duik is sy liggies af vir ‘n paar games. As dit so rof was hoekom is die boef nie gemors nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.