Stormers terug op die wenpad teen Kiwi’s se swakste

Siya Kolisi en Eben Etzebeth – die Stormers se grootste uitblinkers

Suid-Afrika se tweede beste het Nieu-Seeland se swakste Vrydagaand met 30-22 op Nuweland geklop, maar die rugby wat die Stormers en die Blues opgedis het kon niemand behalwe ʼn Stormersondersteuner tevrede gestel het nie.

Eintlik is dit nie heeltemal korrek om aan die Stormers die tweede plek toe te ken nie. Die Sharks het meer ligapunte as die Stormers maar is nie van tuisveldvoordeel vir die uitspeelrondes verseker nie; die Stormers wel.

Dit het op Nuweland van die strafskoppe gewemel, met stukkies goeie spel van albei kante wat darem hier en daar voorgekom en die wedstryd van algehele middelmatigheid gered het.

Met hierdie oorwinning het die Stormers na vier neerlae weer op die wenpad gekom.

Die Blues, vyfde van Nieu-Seeland se vyf spanne, het een punt meer op die puntelys as die Stormers wat naas die Lions Suid-Afrika se ander groepleier is. Dit was die Blues se eerste neerlaag uit ses wat nie teen ʼn Nieu-Seelandse span was nie.

Die Blues was ongetwyfeld in die eerste helfte die beste span, en het die geel kaart wat aan Eben Etzebeth gewys is met twee goeie drieë uitgebuit. Die meeste rugby – en ook die beste van die wedstryd – is voor rustyd gespeel en die besoekers se flair het hulle hier die voordeel gegee.

Goeie verdediging om die afbreekpunte, ook na rustyd, het albei spanne se aanvalle ontwrig, en uiteindelik wil-wil ʼn mens sê dat dit die opskietverdediging van die Stormers was wat die deurslag gegee het hoewel daar ook te veel onsuksesvolle duikslae was.

Hulle pak was in die tweede helfte ook in beheer teen die Blues wat duidelik na hulle lang vlug gesukkel het om by te bly – veral in die laaste 14 minute nadat hulle Matt Duffie met ʼn rooikaart verloor het.

Dillyn Leyds was nie ʼn mislukking op losskakel nie, maar dit is nie sy posisie nie, uit en gedaan.

Tog het hy die drie gedruk wat die tuisspan van 19-10 af skielik laat voorloop het na SP Marais se doelskop.

Die drie het op Leyds se tikskoppie gevolg en die Blues was met reg ontsteld omdat hy meters van merk, met ander woorde nie in lyn met die skeidsregter nie, geskop en maklik van sowat agt meter af gaan druk het.

Maar wie weet, dalk sou dit van agter die merk af ook ʼn drie gewees het …

Daar was ʼn paar gevaarlike hoogvatte en die Stormers se senter Shaun Treeby mag dalk van die uitwysingsbeampte hoor nadat hy met ʼn swaaiende arm net ʼn strafskop teen hom gekry het.

Die Blues se losskakel Piers Francis is na hy lank doodstil gelê het, van die veld met harsingskudding.

Siya Kolisi was deurgaans uitstekend en Etzebeth het na sy geel kaart van sy beste rugby vanjaar gespeel.

Puntemakers –

Stormers (10) 30: Drieë: Siya Kolisi, Dillyn Leyds, Sikhumbuzo Notshe. Doelskoppe: SP Marais 3. Strafdoele: Marais 3.
Blues (12) 22: Drieë: George Moala, James Parsons, Blake Gibson. Doelskoppe: Piers Francis 2. Strafdoel: Bryn Gatland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Amigo ·

Kyk die stormers is nie my gunsteling span nie en etzebet nie my gunsteling rugby speler nie maar toe daai sonnybill vent en daai anner baardbek so tekere gaan… toe wens ek ons kan net weer eendag die all black n pak gee…hoop maar my droom word waar

Frans C ·

Daar was ‘n hele paar beslissings wat die wenkbroue laat lig het.Die ergste was natuurlik die
Treeby geval. Wanneer ‘n speler so hoogvat en met die voorarm op die ken tref,met soveel geweld dat die speler minute lank bewuseloos is,is dit nie net ‘n stafskop nie,maar ook ‘n rooikaart.

Die laagvatreël is tamelik duidelik,wanneer jy laaggevat word en op die grond beland,moet jy
of die bal onmiddellik plaas en wegrol of die bal aangee.Ook die laagvatter moet onmiddellik wegrol.

Jy kan dus nie op die grond lê as jy nie die laaggevatte speler is nie en die bal agter die doellyn plaas nie.Jy moet eers op jou voete kom en dan die bal optel en oorduik vir ‘n drie.

Daar was twee oortredings in die Matt Duffe voorval.Die eerste oortreding was deur Kolbe,wat na die duikslag nie die bal gelos het maar met dit probeer opstaan het toe Duffe
op hom geduik het.Dit moes dus ‘n strafskop teen Kolbe gewees het en ‘n geelkaart vir Duffe.

Goeie oorwinning dalk vir die Stormers maar ‘n minder goeie dag vir al die skeidsregters.

Henry ·

Stem saam.
Die skeidsregter was loshande die Stormers se mees waardevolle speler. Afgesien van die voorbeelde wat deur Frans C genoem word, was die spul telkens onkant tydens hul sogenaamde “opskiet’ verdediging.
Ek is verras dat die skeidsregter nie self ‘n paar tackles uitgevoer het wanneer die Stormers ene gemis het nie. Miskien volgende keer…
:-)

Kollie ·

So die Stormers het nou teen al vyf NZ spanne gespeel en twee daarvan gewen (ook die enigste span buite NZ wat NZ spanne kon klop). Nie te sleg in ag genome die horribale beseringslys hierdie jaar nie. Geluk manne.

Frans C ·

Die TMO en skeidsregter het probleme,want die ‘citing commissioner’ was mening dat die Treeby voorval nie net ‘n geelkaart voorval was nie maar baie na aan ‘n rooikaart.

Natuurlik wil ‘n mens hê dat Suid Afrikaanse spanne moet wen maar dan moet dit nie met die hulp van ‘n ‘hometown referee’ gebeur nie soos dit al dikwels oorsee met SA-spanne gebeur het. Dit maak dit net ‘n hol oorwinning vir die tuisspan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.