Stormers terug op die wenpad

Die Stormers het vyf drieë teen Zebre in Stellenbosch gedruk. (Foto: Hansie Linde)

Ná ʼn rits agtereenvolgende nederlae in die Verenigde Rugbykampioenskap is die Stormers uiteindelik weer terug op die wenpad nadat hulle Zebre met 31 – 7 op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch geklop het.

Afrigter John Dobson, wat maar bra afgehaal was ná die Kapenaars se teleurstellende vertoning teen Cardiff in die vorige ronde, het nou sy terugkerende Springbok-spelers tot sy beskikking gehad.

Die immergroen Deon Fourie het Saterdag die no. 6-trui gedra, terwyl Manie Libbok en Damian Willemse in die agterlyn diens gedoen het.

Evan Roos het die eerste drie van die wedstryd gedruk. (Foto: Hansie Linde)

Maar selfs met die Wêreldbeker-wenners in die opdrafvyftiental het die Stormers steeds by tye gesukkel om hul stempel behoorlik op die wedstryd af te druk.

In die verlede sou die Kapenaars lag-lag met die Italianers afgereken het, maar Zebre is vanjaar ʼn perd van ʼn ander kleur en die tuisspan moes soms hard werk om punte aan te teken.

Maar wanneer alles vlot verloop het, het hulle soos die span van ouds gelyk.

Evan Roos het die eerste drie van die wedstryd ná ʼn baie sterk skrumpoging gedruk, terwyl agterlynsterre soos Ruhan Nel, Courtnall Skosan, Leolin Zas en Damian Willemse ook deel van die driedrukpartytjie was.

Die bonuspuntsege beteken dat die Kapenaars nou die tiende plek op die amptelike punteleer beklee en hulle is binne trefafstand van die Lions, Connacht en Ulster.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Evan Roos, Ruhan Nel, Courtnall Skosan, Leolin Zas en Damian Willemse. Doelskop: Manie Libbok (3).

Zebre: Drie: Alessandro Fusco. Doelskop: Giovanni Montemauri.

Damian Willemse het sy Stormers-terugkeer met ’n drie gevier. (Foto: Hansie Linde)

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster: 29 punte ná sewe wedstryde
  2. Glasgow Warriors: 26 punte ná sewe wedstryde
  3. Bulls: 25 punte ná sewe wedstryde
  4. Munster: 23 punte ná sewe wedstryde
  5. Edinburgh: 22 punte ná sewe wedstryde
  6. Benetton: 22 punte ná sewe wedstryde
  7. Ulster: 20 punte ná sewe wedstryde
  8. Connacht: 19 punte ná sewe wedstryde
  9. Lions: 19 punte ná sewe wedstryde
  10. Stormers: 18 punte ná sewe wedstryde
  11. Ospreys: 16 punte ná sewe wedstryde
  12. Cardiff: 15 punte ná sewe wedstryde
  13. Scarlets: 11 punte ná sewe wedstryde
  14. Zebre: 11 punte ná sewe wedstryde
  15. Sharks: 7 punte ná sewe wedstryde
  16. Dragons: 6 punte ná sewe wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.