Stormers trap erg klei teen die Lions

Aanhangers van die Stormers op die span se tuisveld in die Kaapstad-stadion. (Foto: Stormers/Facebook)

Die oud-Springboklosskakel Joel Stransky het ná Saterdag se wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) tussen die Stormers en Lions daarna verwys dat die Stormers se afrigter, Jonathan Dobson, al sy hare sou uitgetrek het as hy hare gehad het.

Hoekom?

Want die Stormers het op hul tuisveld in die Kaapstad-stadion een van hul swakste vertonings gelewer toe hulle met 37-19 deur die Lions getroef is nadat die besoekers met rustyd met 13-12 voor was.

Hoe, sal Dobson by sy spelers se video-ontledingsessie wil weet, verloor jy ʼn wedstryd as die ander span vier geel kaarte kry, jy slegs 78 duikslae teenoor 157 uitvoer, 64% besit geniet en met gebiedsvoordeel van 68 teenoor 32% spog?

Maklik. Gaan kyk net weer na die video.

Die Stormers se ondergang was powere hantering, swak aangeewerk, verkeerde besluitneming, gebrekkige dissipline en ’n voorry wat in die skrums opgefrommel is.

Dalk is die probleme wat die afgelope jaar of wat in die Kaap voorkom, nie net in die raadsale nie.

Ondanks ses Springbokke in die opdrafspan kon die Stormers baie min gesag afdwing.

Tog was daar hoogtepunte, soos die vertonings deur Warrick Gelant en Evan Roos.

Aan die Lions se kant was ʼn hele paar helde wat hulle lywe vir hul spanmaats op die spel geplaas het. Die kaptein, Burger Odendaal, was op sy kop, die losskakel Fred Zeilinga het een van sy beste vertonings gelewer, die voorry was ysters en die flank Vincent Tshituka het amok gemaak.

Geen wonder nie dat hy as speler van die wedstryd aangewys is.

Die Lions, wat ʼn bonuspunt met hul vier drieë verdien het, het nou bo die Stormers op die puntelys ingeskuif en dalk moet die Kaapse ondersteuners wat gekla het oor verlede week se kragmeting met die agteros Zebre wat uitgestel is, weer daaroor nadink.

As die Stormers só teen die Italianers gespeel het, was daar dalk ook rooi gesigte.

Punte: Leeus 37 (3): Drie: Francke Horn (2), André Warner, Vince Tshituka. Doelskoppe: Fred Zeilinga (4), Strafdoele: Zeilinga (3).

Stormers 19 (12): Drieë: Stefan Ungerer, Seabelo Senatla, André-Hugo Venter. Doelskoppe: Manie Libbok, Tim Swiel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Hierdie uitslae laat mens wonder.

Colombo

Sodra daar probleme aan bestuur se kant is ,spoel dit oor na die speelveld.Die jarelange probleme in die raadsaal manifesteer nou in die spel van die spelers.