Stormers trap toe byna in die Jaguares-strik

Só gaan die Stormers nie die Superrugbyreeks wen nie, en nog veel minder die Jaguares.

Ja, die Stormers het hul reeks met ʼn sege van 28-20 op Nuweland afgeskop nadat hulle rustyd met 15-6 voorgeloop het.

Die tafel was gedek vir ʼn drieëfees, of darem ten minste ʼn bonuspuntoorwinning nadat die Cheetahs-aanwins, Raymond Rhule, ʼn skitterdrie (bygesê, die verdediging was darem louwarrm) kort ná rustyd  gedruk het om die Stormers met 22-6 te laat voorloop.

Maar toe trap die Stormers in die Jaguares-strik.

Sonder die bal het die Jaguares veral in die eerste helfte  onkant gespeel. Hulle het die Stormers se besit vertraag en aan die tuisspan se truie getrek en geruk, maar toe neem hulle besit oor en die skoen is aan die ander voet.

Ewe skielik was die Stormers se verdediging broos en hul ondernemingsgees het saam met die reën weggebly. Hul dissipline het hulle ook in die steek gelaat en die skraps besit wat hulle ontvang het, is ondoeltreffend benut.

Dis waarop die Jaguares gehoop het, om die Stormers na hulle vlak toe af te trek. Nadat die haker Ramon Samuels boonop ʼn geelkaart kort duskant die Stormers se doellyn ontvang het, was daar baie benoude oomblikke vir die res van die tweede helfte in die leërige paviljoene.

Die Jaguares het vlamgevat, hulle het die bal na links en regs geswaai, hulle het geskrum en gedryf en die Stormers gefrustreer. Ná ʼn strafdrie het hulle tot 20-25 op die telbord nader gekruip, maar gelukkig het hul dissipline hulle weer in die steek gelaat en het die Stormers se losskakel, Damian Willemse, met ʼn strafdoel kort voor die einde geslaag.

Pluspunte: Steven Kitshoff se algemene spel, Nizaam Carr wat nooit opgegee het nie, die vlymskerp-breekslae van die vlugvoetige Dillyn Leyds, Seabelo Senatla, Rhule, Willemse (en glo dit as jy wil, Damian de Allende). Die voorspelers se harde werk in die eerste helfte en een monsterskrum in die tweede helfte, het die agterlyn in staat gestel om die bresse te slaan.

Negatiewe punte: Die Stormers sal moet konsentreer op hul eie spel en die kanse wat na hulle kant toe kom, beter moet benut. Ook, die onnodige omhelsing ná ʼn drie gedruk is, getuig van ʼn tikkie arrogansie en hoort in die moewies.

Speler van die wedstryd: Steven Kitshoff.

Puntemakers–

Stormers (15) 28: Drieë; Damian de Allende, Siya Kolisi, Raymond Rhule. Doelskoppe: Damian Willemse (2). Strafdoele: Willemse (3).

Jagueres (6) 20: Drieë: Emiliano Bofefelli, strafdrie (7 punte). Doelskoppe: Nicolás Sánchez, Boffelli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

R ·

Ja nee regtig. Wanneer laas het die Stormers Superrugby gespeel? 10 jaar, 15 jaar terug? O nee askies, hoogstens ‘n handvol maande gelede! Nee my span, dit was ‘n los getjommel en het julle met tye so swak gespeel, selfs ek sou vinniger by die bal en opposisie kon kom. Leer by daardie maer Juguartjie wat elke keer saam met die uitgee-bal by sy opponent aangekom het.

semaarnet ·

Liewe R, hoekom kyk jy Stormers wedstryde as hulle dan so swak speel? Die Lions en Sharks het nie veel beter gespeel nie.

Lol ·

Stem saam. Stormers het soos afkop hoenders rondgehardloop, net soos Fleck in sy speeldae. Fleck seker die mees oorskatte afrigter in wereldrugby.

R ·

Semaarnet, Ek kyk die Stoemers se wedstryde want hulle is my span. Al speel hulle swak, kyk ek nog en bly hulle my span want more, oormore speel hulle weer die opwindende rugby wat hulle so goed kan speel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.