Stormers vee Connacht uit hul pad

(Foto: Vodacom United Rugby Championship/Twitter)

Een van die mees genotvolle oomblikke op ʼn rugbyveld is wanneer ʼn speler op volle vaart bo-oor een van sy teenstanders hol.

Dink maar terug aan Jonah Lomu in 1995 se Wêreldbekertoernooi toe die Engelse se Mike Catt en Rory Uderwood dit moes ontgeld het.

Wat van Richard Bands wat in 2003 oor die All Black-losskakel Carlos Spencer gestoomroller het op pad doellyn toe?

Dit was goud, pure plesier.

Saterdag in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch het die Stormers se vurige agtsteman Evan Roos hom by hulle aangesluit toe hy in die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd tussen die Stormers en Connacht vir Mack Hansen, die Ierse toetsvleuel, met minagting uit sy pad geloop het.

Dit het die vonk by die Stormers aangesteek wat die verdediging van hul titel op ʼn hoë noot begin het deur met 38-15 te wen.

Dit het nooit gelyk of Connacht sou wen nie, veral nie nadat die plaasvervanger-senter Bundee Aki, met ʼn rooi kaart gestraf is nadat hy Seabelo Senatla met die skouer teen die kop getref het.

Aki was briesend, want volgens hom was daar geen ander wyse waarop hy Senatla kon platloop nie.

Maar reëls is reels: Senatla is teen die kop getref: rooi kaart!

Die Stormers gaan vanjaar hul ondersteuners baie genot verskaf, want daarvoor gaan die nuwe heelagter-aanwins Clayton Blommetjies, die losskakel Manie Libbok, die skrumskakel Paul de Wet en voorlangs Roos en Hacjivah Dayimani sorg.

Hulle het vaart, speel met passie en selfvertroue en ken die pad doellyn toe.

Maar dan sal hul dissipline beter moet wees, want Saterdag het hulle 17 strafskoppe afgestaan.

Maar ai, wat nog daarvan as Springbok-ysters soos Steven Kitshoff, Pieter-Steph du Toit, Frans Malherbe en Damian Willemse hulle hul ook by die span aansluit?

Punte: Stormers 38 (13): Drieë: Evan Roos, Andre-Hugo Venter, Hacjivah Dayimani, Marcel Theunissen. Doekskoppe: Manie Libbok (3). Strafdoele: Libbok (4).

Connacht 15 (8): Drieë: Dylan Tierney-Martin, Jack Aungier. Doelskop: Stephen Fitzgerald. Strafdoel: David Hawkshaw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.