Stormers verbrand weer hul vingers

Foto: DHL Stormers

Dit moet darem uiters frustrerend vir ʼn ondersteuner van die Stormers se rugbyspan in die Superrugby-reeks wees. Dit het Saterdagoggend in Auckland weer gebeur toe die Blues die Stormers met 24-9 geklop het nadat die tuisspan met rustyd met 10-6 voor was.

Hoe verduidelik jy dit aan jou ondersteuners as jy teen 14 spelers in die laaste 11 minute speel (die Blues-vleuel Tanielu Tele’a is met ʼn rooikaart gestraf nadat hy Dillyn Leyds se voete onder hom uitgepluk het), maar steeds nie ʼn drie kan druk nie?

Hoe verduidelik jy dit as jy besit oorheers het, minder strafskoppe afgestaan, minder duikslae uitgevoer en steeds nie ʼn bonuspunt kon verower nie?

Aan die positiewe kant is baie meer oor die voordeellyn gekom as verlede week teen die Hurricanes (toe die Stormers ook verloor het). Die losskakel, Jean-Luc du Plessis, het sy agterspelers baie beter weggestuur en die buitespelers het dieper gespeel en oor die voordeellyn gekom. Maar ongelukkig was daar heelwat bottervingers, soms was die laaste aangee vorentoe en die geluk was nie aan die Stormers se kant nie.

Dit was hartverskeurend om rustyd met 6-10 agter te geloop het, want die Blues het net twee behoorlike kans in die eerste helfte gekry en een daarvan afgerond.

Maar jy skep jou eie geluk, jy skep jou eie kanse, jy gryp die krummels wat na jou kant toe kom. Die Stormers moes, en kon so maklik gewen het en daar sal diep op die res van die toer gedelf moet word.

Maar hoeveel keer sal Pieter-Steph du Toit weer vier hanteerfoute maak en besit afstaan?

Boonop is die yster-slot Eben Etsebeth, wat in eerste helfte bra stil was, vroeg in die tweede helfte weens ʼn enkelbesering van die veld af.

Kommer vir die Springbokafrigter, Rassie Erasmus!

Dan is die senter, Dan du Plessis, ná ʼn beenbesering in die eerste helfte reeds deur Josh Stander vervang. Dit het ontwrigting veroorsaak, maar ai, hoe kon die plaasvervanger-vleuel, SP Marais (gewoonlik ʼn baie betroubare stelskopper), ʼn maklike strafskop aan die einde skeeftrek wat op ʼn bonuspunt en selfs ʼn oorwinning kon uitloop.

Punte

Blues 24 (10): Drieë: Tanielu Tele’a, Otere Black, Rieko Ioane. Doelskoppe: Black (3). Strafdoel: Black.

Stormers 9 (6): Strafdoele: Jean-Luc du Plessis (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

bolla ·

Stormers gaan nêrens kom met daai agterlyn wat nie kan drieë druk nie.

AI ·

Kollisi nie kaptein nie…Doen nie veel op veld en sy besluite wel ja wat kan ons se….Sp Marais verbrou skop voor pale en grens maar hul moes kantlyn toe..Die blues was met veertien man… Peter Steph het sy hande verloor en kannie nie bal vashou…Ou de ellende kannie nie raak tackle en gee strafskop weg. Willemse moet eerder bal uitgee vir iemand wat kan skop…So sal jul nie wen…

Kiewiet ·

Hoe is dit moontlik dat in strafskop aan die einde die Stormers kon laat wen het. As hulle 24 – 9 agter is.

Swartwolf ·

Goeie artikel en opsomming Pieter maar jy is baie sag op die Stormers. Om so pakslae teen 14 man te kry is ‘n skande. Voeg by SP wat mis skop, die Ellende en wannabee bok Lleyds wat nou nog nie die gras uit hul monde kan kry na daai verbroude duikslae nie. Tussen Mbonambi, Pieter Steph en Kolisi het hulle seker 10 keer die bal aangeslaan. Waar was Kolisi se leierskap…..?? Dis nie net Rassie wat moet bekommerd wees nie maar Fleck ook die toer word ‘n sirkus. En dit kan die stormers net verduidelik deur te pleit hulle het geen super rugby trofee al ooit gewen nie. Dis al verduideliking.

Babertondaisy ·

Dis baie vernederend vir SA rugby dat ‘n span met soveel springbokke so pakslae kry teen ‘n span met 14 spelers vir 12 minute. Die verbroude duikslae en aanslane…….omtrent ‘n skande.

Losbal ·

Geen normale sport in n abnormale samelewing nie! Die goeie kleintjies in die Stormer span is nutteloos teen die goeie grotes in die wenspan. Dan is daar nog 350 spelers wat oorsee speel weens politiek in sport. Hoeveel toeskouers stel nie meer belang in die blufspul nie, kyk na die handjievol toeskouers by die meeste wedstryde.

Bul ·

Eina. Blues druk 2 van 3 driee in tyd wat hul net 14 spelers op die veld het. Windjies weer geen driee in hele 82 minute. Vir ‘n span met so baie bokke ? Groot fout by die span, dalk maar ‘n indikasie van SA en bok rugby oor die algemeen. Lam gele deur politiek, kwotas en inmenging, asook verliese van spelers oorsee. Na die wereldbeker is bok rugby vir ewig daarmee heen – oor 4 jaar selfde as bafana banana sokker wat op en af spring as hul kwalifiseer vir die CAFCUP.

bolla ·

Ek sal maar net sê dat geeneen van ons spannetjies eintlik maar wen in NZ nie, dis so skaars soos hoendertande net so skaars as wat dit is dat die Bokke NZ in NZ klop (of enige ander plek for that matter) . Een positiewe ding is dat die Stormers beide NZ spanne se voorspelers in NZ ore aangesit het DIT gaan nie so maklik wees vir die ander SA spanne nie, ek verwag groot tellings as hulle daar gaan speel.

Michael ·

Bolla ek weet jy is n stormer ek ook maar ons moet aanvaar rugby in S A sal nooit weer die selfde wees nie Ek lees hier bo van n skande hoe die Stormers speel dit is so Kyk wat laas week op Loftus gebeur het dat n span soos die bulle so n loesing gekry het se vir jou wat in S A rugby aan die gang is.So die spelers van al ons spanne kan geblameer word nie ons weet almal waar die foute le .So ons terg maar mekaar en lag maar oor alles.Een dag in die toekoms waneer die A N C begrawwe word sal ons weer bekers wen.

Kotie ·

Ag weet julle as Stormers wen is almal bly. Verloor hulle word hulle gekritiseer. Pieters Steph dink is ons land se beste flank. Net soos SP Marais hoekom was hy op reserwe bank. Altyd lewer hy goeie spel en sy skoppe is akkuraat maar nou word hy uitgekryt omdat hy ‘n strafskop mis geskop het. Hoe sê hulle beste spelers sit lang die kantlyn. Ja baie onnodige foute gemaak maar kyk hoe het die Blou Bulle laasweek op Loftes gesneuwel. Pieter Steph sit altyd 100% in vir die spel. Maar ja wen hulle is hulle die beste verloor die span word hulle links en regs gekritiseer. Weet hulle word ten duurste betaal, ja ons wil hê dat hulle moet wen maar ongelukkig gebeur dit nie. Sterkte Stormers

Ai.. ·

Dit is die verskil tussen hulle die Nz spanne kotie en dan die RSA spanne …Hulle die kiwis se uitvoering wys van spelers wat goed opgelei word en dit dan so uitvoer! Die Suid Afrikaanse spelers dy op die tipiese simptoom van Suid Afrika waar middelmatig goed genoeg is vir die meederheid Suid Afrikaners en hulle voer dit ok dan so uit….middelmatig! So sal jy hulle nie maklik wen nie jammer…Peter is awesome maar sy aanslane op tye van aanval was middelmatig en onverwags juis oor sy hoë standaarde,so ook Willemse se kantlyn skoppe en aanvalle was onder middelmatig maar te verwagte, Kolosi se oordeel en waar was hy die hele wedstryd eintlik??? Wat doen hy eintlik om by te drae??? De ellende en n paar ander spelers se verdiging was power tot vrot! Jy sien dit is waar die Kiwis bo Suid Afrikaanse uitstyg…En dit is die feite of jy nou daarvan hou of nie Kotie…

Frans C ·

Te veel ‘brawn’ en te min ‘brain’.Te veel spelers wat te veel op hul eie probeer doen.Etsebeth dryf maar word meters terug gedryf,want dit is ‘n eenman poging.

Hoekom jou beste wapen die dryf-maal uit die kas gooi en skielik hardloop rugby speel van die lynstaan af? Jammer maar op die manier gaan geen Suid Afrikaanse span erêns kom ,al probeer probeer eenogige kommentators bv die Bulle tot kampioenstatus te skryf.

Johannes ·

Niks verskaf my meer plesier wanneer stormers verloor nie

Anoniem ·

Dit is goed om te sien dat die Noord-Suid “liefde” nog steeds blom, selfs op hierdie forum.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.