Stormers verbrou weer oorsee

Die Stormers het Saterdag in Wellington nog ʼn gulde kans verspeel om die sielkundige letsels om oorsee te wen uit te vee toe hulle met 34-28 deur die Hurricanes geklop is.

Die Stormers, wat hul afgelope tien wedstryde op ʼn streep oorsee verloor het, het dit 11 nederlae in ʼn ry gemaak ondanks ʼn rustydvoorsprong van 21-15.

Dit was ʼn komiese einde aan die eerste helfte nadat die skeidsregter, Glen Jackson, die rustydfluitjie geblaas het met die Stormers met 16-15 voor.

Maar, heeltemal binne die reëls, is ʼn gevaarlike skouerloop deur die Hurricanes-flank Vaea Fifita op die Stormers se plaasverangerslot, Salman Moerat, na die TV-skeidsregter Glenn Newman verwys, wat ʼn geelkaart en strafskop aan die Stormers voorgestel het.

Dit kon so maklik ʼn rooikaart gewees het, maar nou ja, as daar verlede jaar nie teen Engelse losskakel Owen Farrell vir ʼn soortgelyke skouerloop op die Boksenter André Esterhuizen opgetree is nie, hoekom dan nou?

Dit het wel tot ʼn drie deur die Stormers se haker, Bongi Mbonambi, gelei om die werklike rustydtelling op 21-15 te staan te bring.

Dit terwyl Nick Mallett-hulle in die SuperSport-ateljee in Randburg en die duisende televisiekykers tuis nie daarvan bewus was nie omdat die Nieu-Seelandse TV-span glo reeds teruggeskakel het en advertensies ingespeel is.

Dit was ʼn wedstryd wat die Stormers nooit moes verloor het nie, maar dalk moes hulle ook na Plan B oorgeskakel het.

Dit was goed en wel om die powere Hurricanes-voorspelers in die grond te skrum, te rolmaal, te dryf en te maal en hul lynstane te ontwrig.

Maar ai, hoekom is die vaardige agterspelers nie meer ingespan nie? Hoeveel keer is die vleuels Sergeal Pietersen en SP Marais ingespan? Hoekom is daar volhard met swak taktiese skoppe deur Herschelle Jantjies en Jean-Luc du Plessis?

Aan die ander kant, as die Stormers ʼn lynstaan op die Hurricanes se doellyn kort voor die einde gewen het, sou hulle feesgevier het en was dit nie nodig vir Mbonambi se frustrasies om oor te borrel nie.

Ook ter versagting het dit soos ʼn amperse oorlogsone gelyk met Moerat, JD Schickerling en Jaco Coetzee en ʼn rits ander Stormers beseer. Maar dit kon, en moes, so maklik anders gewees het. Een troospunt was darem die bonuspunt wat die Stormers verower het.

* Punte: Hurricanes 34 (16): Drieë: Wes Goosen (2), Ben May, Jordie Barrett, Beauden Barrett. Doelskoppe: Beauden Barrett (3). Strafdoel: Beauden Barrett.

Stormers 28 (21): Drieë: Siya Kolisi, Bongi Mbonambi, Jaco Coetzee. Doelskoppe: SP Marais (2). Strafdoele: Marais (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Schoemie ·

Die Stormers se Plan B is dieselfde as Plan A – rolmaal. Waarheen is Suid-Afrikaanse rugby op pad?

marco polo ·

Nog n nederlaag uit die kake van n oorwinning gepluk. Ek hoop dit die Stormers nog in my leeftyd iets sal bereik, ek wag darem.al wragtag lank en.dis.elke jaar dieselfde storie.

Lekker lag ·

Sodra die stompies teen enige iets wat soos opposisie lyk speel val hulle uit die bussie uit.

Johan Pretorius ·

Die Stormers het in elk geval n baie beter vertoning gelewer as die patetiese Bulls.

Lekker lag ·

Moet maar weer hom se naam verander na wp – weer probeer!! Bulls het reeds 3 ………

Rupert Ashford ·

Probleem is die oomblik as daardie “vaardige” agterspelers dinge losgemaak het, was daar ouens met die van Barrett om mee te kompeteer.

Michael ·

Ai Ai !!!!! ” Lekker Lag ” onthou die 40-3 . Hoe lekker lag ek nou. En wanner die Nulle Nuweland toe kom Gaan ek nog lekkerder lag.Tyd om daar die naampie te verander na LEKKER HUIL.

Lekker lag ·

Geen twyfel die stompies sal weer probeer maar nie die SR beker wen nie. Nou weer oorsee verloor na hulle halftyd voor was. Bulle op hul hel gekry nou doubt. Maar die 40 op die stompies staan. Wonder hoe sou die telling gelyk het as die stompies teen die chiefs gespeel het……eina.

Babertondaisy ·

@michael: spog met iets wat die stormers gewen het nie met ‘n wedstryd wat jy hoop hulle in die toekoms sal wen nie, of soos ander stompie ondersteuners hulle spog met ander spanne se verloor terwyl hul eie span ook verloor het.

Michael ·

Barbertondaisy . jy sit die pot so ver mis jou kommentaar is tiepies soos n Blou bul ondersteuner suuuuur druiwe

Babertondaisy ·

“Tipies” dink ek is die regte spelling. Maar dis dalk te moeilik, in elk geval wanneer wen weer probeer ‘n super rugby titel?

Frans C ·

As jou teenstanders 5 drieë teen drie druk verdien hul mos om te wen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.