Stormers verfomfaai Dragons in skrums

(Foto: Stormers/Facebook)

Wanneer ʼn rugbyspan die dag nie kan skrum nie, kan hy maar ʼn oorwinning op sy maag skryf.

Dié wysheid is so lank terug soos in 1937 geleer toe die Springbokke die All Blacks voos geskrum het om die toetsreeks in Nieu-Seeland te beklink.

Dit was Vrydagaand op Rodney Parade in Newport ook die verskil tussen die Stormers en Dragons.

Die Stormers het die Dragons in die skrums vermorsel en nadat die Dragons rustyd nog met 10-9 voor was, het twee drieë deur Leolin Zas aan die Stormers sy eerste oorwinning in die Verenigde Rugbykampioenskap besorg.

Die Stormers, wat maar bra verbeeldingloos was, het met 24-10 gewen en kan nou daarna uitsien om ʼn hele paar wedstryde in die Kaapstad-stadion te speel, onder meer teen die sukkelende Italiaanse Zebre-span, wat saam met die Lions om die houtlepel baklei.

Die Dragons, wat in die eerste helfte gebiedsvoordeel geniet het, kon nie die pas in die tweede helfte volhou nie, merendeels omdat hulle in die skrums vernietig is.

Dit is eintlik baie vreemd dat die Italiaanse skeidsregter, Gianluca Rocchi, nie ʼn strafdrie aan die Stormers toegeken het nie of die tuisspan nie ten minste met ʼn geel kaart gestraf het nie.

Die Stormers se voorry, bestaande uit Brok Harris, Scarra Ntubeni en Neethling Fouche, het ʼn kragvertoning soos min gelewer.

Dit het die tuisspan op die agtervoet geplaas, want hy kon skaars uit sy eie gebied kom. Dan het die Dragons ook geen teenvoeter gehad vir die Stormers se opskietverdediging nie.

Die Stormers is nog ver van die eindproduk af, maar met ʼn yster-voorry, ʼn vuurvreter-losvoorspelerkombinasie aangevuur deur die bielie Evan Roos, kan hulle nou na die res van die seisoen uitsien.

Heelagter Warrick Gelant was op sy stukke terwyl die twee vleuels, Leolin Zas en Edwill van der Merwe, ook gevaarlik was wanneer hulle wel die kans op die aanval gekry het.

Puntemakers:

Stormers 24 (9): Drieë: Leolin Zas (2). Doelskop: Manie Libbok. Strafdoele: Libbok (4).

Dragons 10 (10): Drie: Josh Lewis. Doelskop: Sam Davies. Strafdoel: Davies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Dit is die regte taktieke wanneer jy met ‘n verswakte kwota span gebaseer op velkleur speel dan speel jy teen swak spanne om goed te lyk ,pleks daarvan om die regering aan te vat oor sy rasistiese inmenging.

piet

Sover het die Stormers dus die beste gevaar van die SA spanne oorsee. 1 gewen en een gelykop, algehele punteverskil lyk ook heel skaflik. Kom ons kyk of die Sharks en Bulle kan verbeter en dalk 2 wedstryde wen.