Stormers vermorsel Cheetahs met agt drieë in pragvertoning

Wie sê dis net die Nieu-Seelandse spanne wat kan hardlooprugby speel! Die Stormers, wat die afgelope weke gedreig het, het hulle by die Lions as ’n hardloopspan aangesluit met ’n pragvertoning van volkome rugby op Nuweland.

Die Stormers het agt drieë gedruk en die Cheetahs net een en met 53-10 gewen. Dit behoort hulle heelwat selfvertroue te geen vir die volgende vyf taai wedstryde wat voorlê.

Die Chiefs en die Lions op Nuweland, en dan die Crusaders, die Highlanders en die Hurricanes in Nieu-Seeland wag nou op hulle.

Die Nuwelandstryd is teen ʼn geweldige pas gespeel waar kontinuïteit en ondersteuning kenmerke van die Stormers se spel was.

Moet egter nie die verdediging van die tuisspan in die ontleding van die oorwinning weggooi nie. Hulle het die agterlyn van die Cheetahs, wat omtrent ewe veel besit gehad het, min hardloopkans gegee. Hierdie verdedigingsproses het heelwat omkeerbesit vir die wenspan bewerkstellig.

Terwyl die Cheetahs se losvoorspelers, Paul Schoeman, Oupa Mohoje en Henco Venter hulle deel gedoen het, was dit die voorvoet-geleenthede wat die nuweling Cobus Wiese, Sikhumbuzo Notshe en Siya Kolisi laat baljaar het.

Die gevolg was dat hulle agterlyn beter geleenthede gekry het en Notshe veral was oral met sy ondersteuning en drie keer by om die bal te vat en te druk.

Die Stormers se heelagter SP Viljoen was skitterend op die aanval en het drie drieë gemaak en die Vrystaters se verdediging soms lelik laat bontstaan. En dan was daar die nuweling EW Viljoen, wat weer met sy vaardighede en opsies op senter beïndruk het.

Puntemakers –

Stormers (22) 53: Drieë: Dillyn Leyds 2, Sikhumbuzo Notshe 3, Dan du Plessis, Robert du Preez, Sija Kolisi. Doelskoppe: Du Preez 4, Kurt Coleman. Strafdoel: Du Preez.
Cheetahs (3) 10: Drie: Paul Schoeman. Doelskop: Fred Zeilinga. Strafdoel: Zeilinga

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tollies ·

Was lekker om na te kyk , kan nie wag vir die wedstryd teen die lions nie.
Stormers sal hom ook die wedstryd wen

Frans C ·

Daar kan een van twee dinge of ‘n kombinasie van die twee gelei het tot die Cheetahs se pak slae.Dalk het die praatjies dat die Cheetahs saam met die Kings nie langer deel van die Super 18 reeks gaan wees nie die Cheetah-spelers so beinvloed dat dit by hulle nie langer saak maak of hul nou win of verloor nie.

‘n Ander rede kan wees dat Curriebekerrugby van so’n lae standaard is dat die bestaan van die kompetisie in sy huidige vorm nie langer geregverdig kan word nie.Hoe anders verklaar ‘n mens so’n halfhartige poging van die nuwe Curriebekerkampioen?

Ek raak dus glad nie opgewonde oor die Stormers se vertoning nie,want die Cheetahs was eenvoudig net vrot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.