Stormers verniel die Bulls voorlangs

 

Pieter-Steph du Toit - speler van die wedstryd (Foto sarugby.co.za)

Pieter-Steph du Toit – speler van die wedstryd (Foto sarugby.co.za)

ʼn Meer kliniese Stormersspan het Saterdagaand op Nuweland die Superwedstryd teen die Bulls reeds teen rustyd in die sakkie gehad toe hulle 24-0 voor was.

Die eindtelling was 37-24. Die Bulls was in daardie eerste helfte teleurstellend sleg, en selfs die feit dat hulle self in die tweede helfte 24 punte waaronder vier drieë aangeteken het, sal nie vir die Bulls se afrigter Nollis Marais gelukkig maak nie.

Hy weet daar is baie werk wat wag, en sal wakker lê oor die baie foute, maar veral oor die Bulls.

Robbie Fleck, aan die ander kant, verdien ʼn pluimpie vir die samespel onder die Stormers waar hy grootliks ʼn nuwe agterlyn ingespan het, en met Wilco Louw op die vaskop gewaag het en na die tyd tevrede kon glimlag.

Die Bulls is, veral in die eerste helfte, in die skrums verwoes. Hul lynstane was goed maar nie foutloos nie, en hulle losskrums was veral in  die tweede helfte ʼn amperse bron van besit vir die Stormers.

ʼn Hele paar keer is die Bulls, met die losskrum reeds gewen, eenvoudig van die bal af gestoot vir goeie omkeerbesit aan die Stormers. Die Stormers se kaptein Siya Kolisi, loshande die beste losvoorspeler op die veld, was die man wat veral met hierdie oorstoottaktiek besit help wen het.

Pieter-Steph du Toit se harde werk in die vaste los, sy uitstekende lynstaanspel en sy algemene ondersteunende spel het aan hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg.

Daar sal in  Pretoria beslis werk gemaak moet word van die vaste voorspelers wat nie net rondstaan en wag vir die bal nie. Iemand moet eers die goeie besit verseker.

Handré Pollard se terugkeer was alsbehalwe ʼn sprokie. Sy skopwerk pale toe was nie goed nie, en hy het die nadeel gehad dat hy agter ʼn pak gespeel het wat in die eerste helfte in trurat was, veral by die skrums. Rudy Paige bly steeds met sy dubbel-treetjie als behalwe ʼn vinnige voorsiener van besit.

Benewens Pollard was die Bulls agterlangs, selfs ná die omdraaislag, huiwerig en planloos. ʼn Mens sou nooit kon sê Burger Odendaal en Dries Swanepoel ken mekaar se spel baie goed nie, hoewel hulle as individue goeterig was.

Op die vleuel was die Bulls Jamba Ulengo  en Travis Ismaiel albei baie goed.

Die keuse van Cheslin Kolbe op die vleuel en SP Marais op heelagter is wyd gekritiseer, maar albei het gewys dat Fleck hier reg gekies het. En Jean-Luc du Plessis was op losskakel eenvoudig stukke beter as Robert du Preez wat hom na die einde toe vervang en met sy aangeewerk gesukkel het.

En Jano Vermaak se ervaring en oordeel maak hom steeds ʼn gedugte skrumskakel.

Die Stormers het uit die staanspoor met groot intensiteit gespeel, veral voorlangs. Hulle verdediging was aggressief en goed en hulle het die Bulls op dié wyse duidelik ontsenu.

Die Stormers se agterlyn het ook goed gekliek. Damian de Allende het anders as verlede seisoen heelwat kere die bal – met groot vrug – laat loop, en langs hom was die nuweling EW Viljoen een van dié uitblinkers.

Sy rolskoppie wat Kolbe se drie gemaak het, het aan die Springbok Eben Olivier van die sestigerjare herinner. Dis ʼn aanvalswapen wat heeltemal te min gebruik word.

Puntemakers –

Stormers (24) 37: Drieë: SP Marais, Cheslin Kolbe, Nizaam Carr, Siya Kolisi, Dillyn Leyds. Doelskoppe: Jean-Luc du Plessis 3. Strafdoele: Du Plessis 2.
Bulle (0) 24: Drieë: Hanro Liebenberg 2, Pierre Schoeman, Piet van Zyl. Doelskoppe: Handré Pollard, Tian Schoeman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jaybee ·

Die Stomers het die oorwinning verdien. Die Bulle het te veel foute gemaak wat nie op die vlak behoort nie. Ek is ‘n trotse Bull ondersteuner maar hulle sal baie moet verbeter,nogtans geluk aan die Stomers.

Bendons Oud Pretoriaaner ·

Geluk aan die Stormers. Bulls julle het Jan nodig.

Pietser ·

Ek is bevrees, nie eers Jan van Riebeeck gaan julle red nie.

Riaan ·

Aan die bulls ondersteuners, hulle het mos nou die dag n opwarmings wedstyd gewen toe word daar gese ” dis nou n goeie span”, super reekse word nie gewen in opwarmings wedstryde nie, hulle het seker n foto van die
beker op Loftus geplak en gedink hule het die beker gewen na die wedstryd.

Riaan Myburgh ·

Ten minste het die beker al op Loftus gestaan………3 keer. Geluk met julle oorwinning. Julle voorspelers het briljant gespeel en n goeie grondslag gelê vir die agterlyn.

Herman ·

Soos die Stormer ondersteuners nou dink na een wen, dat die Superreeks in die sakkie is Riaan?

Dirkie ·

Stormers was goed, die bulle kort voorrye wat kan domineer. Rudi Paige moet vinniger skoon maak.

Jaybee ·

Se weer die Stomers was baie beter as die Bulle. Rudi Paige hoort nie in die span nie. Ten spyte van die pak slae, bly ek ‘n Bul ondersteuner.

Stormers mors met bulle ·

Die telling vly die nulle. Kan nie skrum nie en kort ‘n nippie losskakel. Pollard is so lomp hy moet eerder heelagter speel.

Herman ·

Die Kaapse span se ondersteuners is werklik nederig en grasieus met hul span se oorwinning. Soveel so, dat ‘n oorwinning oor ‘n ondergemiddelde span hulle laat glo hulle is al klaar die Superkampioene vir 2017. Maar wie kan hulle verkwalik? Jaar na jaar is die Stormers mos die kampioene van Superrugby – ongelukkig net in die verbeelding van hul ondersteuners…!

Koos1 ·

Ek het die wedstryd tussen die Lions en Cheetas baie meer geniet. Daai skeidsregter was briljant.
Wel ek is ‘n Bul in hart en bloed, maar ek begin my span afskryf. Nollis hou vas aan Rudi. Ek dink beide moet waai!

Frans C ·

Die span van die naweek was ongetwyfeld die Chiefs. Bulle het net eenvoudig nie ‘n voorry wat hul stempel kan afdruk nie en plaas die res onder soveel druk dat selfs Naas op sy beste hul nie kon gered het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.