Stormers wen met ʼn strafdoel in die doodsnikke

Die Lions vs die Sormers tydens die Reënboogbekerreeks. (Foto: GB Jordaan).

Die Lions se rugbyspan het goud raakgeboor met die 19-jarige losskakel Jordan Hendrikse. Sy droom is egter in die Reënboogbeker-reeks deur die Stormers se plaasvervanger-losskakel, Tim Swiel, versuur.

Die Stormers het ʼn doodsniksege van 39-37 behaal, nadat Swiel in die 83ste minuut met ʼn strafdoel geslaag het.

Hendrikse, wat verlede jaar nog op skool by Glenwood High in Durban was, se ouer broer, Jaden, speel skrumskakel vir die Sharks.

Hendrikse, wat as speler van die wedstryd aangewys is, skop soos ʼn muil; sy skopwerk pale toe was ook skaflik en sy binne-aangeë wat tot MJ Pelser se puik drie gely het, was vingerafleklekker.

Die Lions moes gewen het, want hulle het met 37-29 voorgeloop, vyf minute voor die eindfluitjie geblaas het. Dit het beteken dat die Stormers twee keer punte moes aanteken nadat Rabz Maxwane vir die Lions afgerond het.

Die Lions vs die Sormers tydens die Reënboogbekerreeks. (Foto: GB Jordaan).

Maar die Lions kon nie behoorlik daarin slaag om die Stormers in hul gebied vas te pen nie en te sorg dat hulle nie strafskoppe afstaan nie.

Die Stormers het, ter versagting, met ʼn hele paar jongelinge gespeel, maar het verskeie van hul aangeë verlore laat gaan en soms was hul verdediging maar eina-eina.

Maar hulle was op die wenpad, met Marcel Theunissen, David Meihuizen en Johan du Toit (Pieter-Steph se jonger broer) wat die oog getref het.

Agterlangs het Dan du Plessis, seun van die oud-Bok Michael du Plessis, twee drieë gedruk en was Edwill van der Merwe kookwater op vleuel.

Die Lions het nie nog ʼn drag slae verdien nie, want weekliks speel jongelinge soos die Tshituka-broers, die strydros Willem Alberts, Jaco Visagie en Pelser hul harte uit.

Agterlangs was EW Viljoen gevaarlik op die aanval en Burger Odendaal was die rots op senter.

Maar ai, daar laat die Leeus toe nog ʼn oorwinning deur hul vingers glip terwyl hulle net die sakkie moes toeknoop.

Punte:

Die Lions vs die Sormers tydens die Reënboogbekerreeks. (Foto: GB Jordaan).

Stormers 39 (15): Drieë: Dan du Plessis (2), Bongi Mbonambi, Marcel Theunissen, Edwill van der Merwe. Doelskoppe: Abner van Reenen (2), Tim Swiel (2). Strafdoele: Van Reenen, Swiel.

Lions 37 (22): Drieë: Wandisile Simelane, MJ Pelser, EW Viljoen, André Warner, Rabz Maxwane. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3). Strafdoele: Hendrikse (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

WP gelukkig om te wwn teen ‘n baie onervare Leeus span. Leeus het baie beter rugby gespeel.