Stormers wen skitterstryd; Sharks bo na gesukkel

Die onoorwonne Stormers het hulle eerste stryd teen Nieu-Seelandse teenstand Saterdagmiddag gewen toe hulle die Chiefs in ʼn skitterende wedstryd tussen twee spanne wat wóú en kán hardloop met 34-26 gewen het.

Dit was die Chiefs se eerste neerlaag

Die Sharks, aan die ander kant, het ondanks hulle oorwinning met 18-13 teen die Jaguares in Durban teleurgestel in ʼn wedstryd vol basiese foute en swak dissipline.

♦  Op Nuweland het die Chiefs een van die heel beste ondersteunende hanteerdrieë gedruk wat min gesien word en deurgaans met hulle hanteerwerk beïndruk en twee langafstand drieë gedruk. Die Stormers het vier drieë teen drie gedruk waarvan een ook uit eie gebied gekom en met groot vaardigheid behaal is.

Hulle was die beste span, en het die stryd om die losbal gewen met Siya Kolisi uitstaande in die algemene losspel. Robert du Preez het weer eens goed op losskakel vertoon en in die vastelos was Eben Etzebeth en Bongi Mbonambi uitstekend vir die tuisspan.

Daar was suksesvolle skoon breekslae aan albei kante, hoofsaaklik die gevolg van goeie ondersteuning en hardlooplyne deur die ontvanger, en die verdediging was daarbenewens as ʼn geheel stewig aan albei kante.

Die feitlik 35 000 toeskouers het ʼn rugbyfees soos min gesien.

♦  In Durban het die twee spanne feitlik 40 hanteerfoute gemaak en met die 15 strafskoppe wat afgestaan is, was kontinuïteit nouliks moontlik. Saam het die twee spanne 47 keer omkeerbesit afgestaan, met die Jaguares wat hier 25 keer die sondaars was.

Die lynstane was slordig aan albei kante en die keerwerk vrot met die Jaguares wat 25 keer misgeduik het en 93 keer die man grond toe gebring het, en die Sharks wat elf uit 86 têkkels verbrou het.

Soos nou al die gebruik is, het die Argentyne weer ʼn man met ʼn geelkaart in  die koelkas gehad  – en weer was Nicolás Sánchez na sy onlangs skorsing die sondaar.

Die Sharks het verdien om te wen, en het daarmee bo die Jaguares op die punteleer geskuif. Hulle is nou binne ʼn punt van Lions, wat egter ʼn wedstryd minder gespeel het.

Puntemakers –

Sharks (8) 18: Drieë: Cobus Reinach, André Esterhuizen. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch 2.  Jaguares (6) 13: Drie: Agustín Creevy. Doelskop: Bautista Ezcurra. Strafdoele: Nicolás Sánchez.

Stormers: Drieë: Sikhumbuzo Notshe, Siya Kolisi, Robert du Preez, SP Marais. Doelskoppe: Du Preez 4. Strafdoele: Marais 2. Chiefs: Drieë: Pulu 2, Lowe. Doelskop: Aaron Cruden. Strafdoele: Cruden 2, Damian McKenzie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die deurslaggewende drie was gedruk deur SP Marais wat uitstekend opgevolg het.Hy was mi die man van die wedstryd want met 7 punte minder kon die Chiefs die wedstryd mrt ‘n strafskop in die laaste minute gewen het. Hy het met sy langafstand strafskop bewys dat hy oorweeg moet word as heelagter vir die Springbokspan .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.