Stormers wen titaniese stryd

(Foto: GB Jordaan)

Die kenners het voorspel dat dit ʼn naelbytstryd sou wees en dis presies wat die sowat 44 000 toeskouers op Loftus Versfeld in Pretoria gekry het.

Die geskiedenis was teen die Bulls, want hulle kon nog nie die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap klop nie. Dis steeds die geval nadat die Kaapse span met 23-19 gewen het. Dit was uiteindelik rotsvaste verdediging van die Stormers wat die verskil in die uitslag gemaak het.

Jake White, die Bulls se afrigter, sal waarskynlik terugkyk op talle verbroude kanse wat sy span veral in die eerste helfte gehad het. Van die skuldiges was skrumskakel Zak Burger wat die bal sinneloos weggeskop het wanneer die Bulls in die Stormers se kwartgebied op die aanval was.

Die Bulls het die wedstryd op die voorvoet begin en die Stormers voorlangs aangevat en balbesit oorheers.

Die skopskoen van Chris Smith, die Bulls se losskakel, het vroeg die praatwerk gedoen en ná tien minute was die tuisspan met 6-0 voor ná twee suksesvolle strafskoppe pale toe. Albei spanne het basiese foute begaan by die afskoppe en dit het in die 13de minuut gesorg vir Manie Libbok se eerste suksesvolle skop pale toe. Dis die einste Libbok wat ʼn baie ver pad gekom het sedert sy dae by Tukkies se Varsitybeker-span. Hy is pure Bok-materiaal.

Ná 16 minute was die Bulls met 9-3 voor ná nog ʼn slordige afskop en obstruksie deur die Stormers.

Een van die Bulls se verbroude kanse het gekom in die 21ste minuut toe Cornal Hendriks ʼn lugskoppie van skrumskakel Burger uit die lug gevat het. Desperate verdediging deur die Stormers het tot ʼn aanslaan aanleiding gegee en weer kon die besoekers uit die moeilikheid ontsnap.

Stut Mornay Smith het in die 24ste minuut vir Brok Harris ore aangesit in die skrum en die ander Smith kon die telling in die Bulls se guns 12-3 maak ná nog ʼn strafskop pale toe.

Herschel Jantjies het in die 28ste minuut gewys hy is weer pure Bok met ʼn pragtige lang aangee wat die Bulls se verdediging aan die slaap gevang het. Agsteman Marcel Theunissen het sy ore platgetrek en die besoekers se eerste drie gaan druk. Libbok se doelskop was in die kol en die telling was 12-10 in die Bulls se guns.

Dit was ook asof die momentum in die Stormers se guns begin swaai het. Heelagter Clayton Blommetjies het ʼn sierlike skop van sy halfgebied in die Bulls se kwartgebied uitgejaag om sy span op die aanval te plaas. Van die lynstaan af het die Bulls ʼn strafskop by die losskrum afgestaan en Libbok kon die rustydtelling 13-12 in die besoekers se guns maak.

Die heen-en-weer het in die tweede helfte voortgeduur, maar dit was waarskynlik Junior Pokomela se drie in die 52ste minuut wat die wedstryd in die Stormers se guns geswaai het. Dit was weer weens slordige verdediging van die Bulls. Libbok het die drie weer verdoel en met die telling op 20-12 is daar waarskynlik op TV-stelle geskree in talle huise in Pretoria.

Die Bulls is boonop in die 59ste minuut met ʼn geel kaart gestraf toe heelagter David Kriel ʼn Stormers-aangee in sy span se kwartgebied probeer onderskep het. Skeidsregter Marius van der Westhuizen het beslis dit was ʼn opsetlike aanslaan.

Die Bulls het toe self meesterlik verdedig om te keer dat die Stormers ʼn derde drie byvoeg.

Intussen het Morné Steyn vir Smith op losskakel vervang en onmiddellik was daar ʼn ander dimensie aan die Bulls se spel. Dit was nie verniet Steyn se 150ste Super-wedstryd vir sy span nie. Hy het ʼn skoonvang in die kwartgebied uit die lug gegryp en dit boonop teruggestuur tot in die besoekers se kwartgebied. Vir eens het die Bulls netjies aangeval en die bal wyd gespeel. ʼn Onder-die-vlerk-aangee het vir Sbu Nkosi ruimte gegee en hy kon oorduik vir die Bulls se eerste drie.

Nodeloos om te sê het Steyn die drie verdoel en met tien minute oor was die tafel gedek vir drama met die telling 20-19 in die Stormers se guns.

Dit was totdat daardie man Libbok sy vele talente gewys het en vlugvoetig ʼn skepdoel deur die pale gestuur het om die telling 23-19 te maak.

Wat vir White goeie moed sal gee, is hoe sy span daarna hul bes gedoen het om steeds die bordjies te verhang. In die doodsnikke van die wedstryd was die Bulls herhaaldelik op die aanval in die Stormers se kwartgebied, maar ʼn strafskop by ʼn losskrum het hulle pogings in die wiele gery.

In die 83ste minuut was die Bulls weer op die Stormers se doellyn. Dit is waar die rotsvaste verdediging van die Kaapse span tot sy volste reg gekom het. Omkeerbesit het die Stormers die bal besorg en die eindfluitjie het die drama tot ʼn einde gebring.

Ten minste het die span wat die meeste drieë gedruk het die wedstryd gewen.

PUNTEMAKERS:

Stormers 23 (13)

Drieë: Marcel Theunissen, Junior Pokomela

Doelskoppe: Manie Libbok (2)

Strafdoele: Manie Libbok (2)

Skepskop: Manie Libbok

Bulls 19 (12)

Drie: Sbu Nkosi

Doelskop: Morné Steyn

Strafdoele: Chris Smith (4)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boer ·

Dit het Saterdagaand baie by Loftis gereën, dit moes die trane van die 40 000 bulondersteuners gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.