Stormers wil spiere teen Munster bult

Die Stormers sal met ’n stewige vertoning teen Munster vorendag wil kom. (Foto: Hansie Linde/Argieffoto)

Die Stormers het verlede week vlugvose spel teen die Exeter Chiefs in die Kampioenebeker opgedis. Nou hoop hulle om hul seisoen weer ʼn adrenalieninspuiting te gee wanneer hulle teen Munster in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in Kaapstad te staan kom.

Hoewel die Kaapse span tweede op die amptelike VRK-punteleer met 61 punte is, blaas Ulster in sy nek. ʼn Goeie vertoning teen Munster sal dus die pad na ʼn tuiskwarteindstryd aansienlik makliker maak.

“Dit is lekker om vir Munster hier in Kaapstad te verwelkom. Ons sal alles inspan om ons goeie rekord op ons tuisveld te verdedig en ons ondersteuners trots te maak,” het Paul de Wet gesê.

Volgens die skrumskakel sal die Stormers nie sommer van sy aanvallende meesterplan wyk nie.

“Ons sal altyd probeer om geleenthede vir onsself te skep en drieë te druk. Dit is egter iets wat ons net kan doen wanneer ons goeie balbesit geniet.”

Sonder die balplundervaardighede van ʼn Deon Fourie – wat vir ʼn ruk nog op die krukkelys gaan wees – het die Stormers gesukkel om voorvoet-balbesit teen Exeter te kry.

Gelukkig staan Evan Roos weer gereed om die nodige vonk te verskaf nadat hy voldoende van sy kniebesering herstel het.

“Dit is altyd goeie nuus wanneer ʼn beseerde speler weer sy verskyning op die veld kan maak. Die span het immers diepte in elke liewe posisie nodig.”

De Wet weet egter dat Munster nie kanonvoer in Kaapstad sal wees nie, selfs al het die tuisspan reeds ʼn rits wedstryde op ʼn streep op die DHL-stadion gewen.

“Munster is een van die topspanne in die toernooi en hulle het ʼn paar internasionale spelers in hul groep wat vir baie ervaring sorg.”

Die Ierse klub het egter vroeër lelik teen die Sharks verloor en hulle het sewe drieë in Durban afgestaan.

Die wedstryd begin Saterdag om 18:15 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Munster-toergroep:

Voorspelers: Dave Kilcoyne, Josh Wycherley, Jeremy Loughman, Mark Donnelly, Diarmuid Barron, Scott Buckley, Danny Sheahan, Stephen Archer, Keynan Knox, Jean Kleyn, RG Snyman, Fineen Wycherley, Edwin Edogbo, Gavin Coombes, Alex Kendellen, Jack O’Sullivan, Jack O’Donoghue en Peter O’Mahoney.

Agterspelers: Craig Casey, Conor Murray, Jack Oliver, Joey Carbery, Jack Crowley, Ben Healy, Malakai Fekitoa, Antoine Frisch, Shane Daly, Keith Earls, Calvin Nash, Rory Scannell en Mike Haley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Speel asb tog net vir JJ Kotze op haker in die beginspan en nie vir Josepf Dweba nie. Totdat die Stormers nie Dweba se swak ingooiwerk regstel nie, sal hulle lynstane nie funksioneer nie.

Frans ·

Indien RG Snyman in die beginspan is moet die Stormers hul lynstane verbeter want RG sal enige fout uitbuit.Hy is ‘n groot verlies vir SA spanne

Manie ·

Dweba is weer in die beginspan en RG Snyman en Jean Kleyn is Munster se slotte, so hier kom probleme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.