Stormers wil wenrugby in Tafelberg se skadu speel

Die Stormers is weer op hul tuisveld in aksie. (Foto: Hansie Linde)

Reg, die Sesnasies is iets van die verlede, nou word die Verenigde Rugykampioenskap (VRK) in alle erns voortgesit.

In die Kaap is die Stormers oorgehaal om weer op die toernooiwenpad te kom nadat hulle in die vorige ronde teen die Bulls op Loftus Versfeld verloor het.

John Dobson se span het intussen ʼn vertoonwedstryd weg van die huis teen die Northampton Saints gewen en hulle sal nou oudergewoonte probeer om avontuurlustige spel teen Edinburgh op die DHL-stadion op te dis.

Hulle is tans negende op die amptelike punteleer, maar net vier punte agter die Skotte wat binne trefafstand van die topdriespanne is.

“Dit is spesiaal om weer op ons tuisveld te wees. Ons het laas in Januarie hier gespeel,” het die Stormers se hoofafrigter gesê.

“Dit is baie belangrik om weer ʼn bietjie momentum op te bou; ons is nie waar ons wil wees op die punteleer nie. Die Loftus-nederlaag het ons onder druk geplaas, maar ons was al vantevore in ʼn soortgelyke situasie en ons het daardeur gekom.”

Die Stormers het veral met hul dissipline teen die Bulls gesukkel en Dobson meen dat die eerste halfuur van die kragmeting een van sy span se swakste vertonings nóg was.

Dit hoort egter tot die verlede en sy spelers se lot is in hul eie hande.

“Daar kan nog baie dinge op die punteleer in die komende paar weke verander. Al wat ons kan doen is om ons beste te gee om ons tuiswedstryde te wen.”

Die naweek se bepalings:

  • Vrydag:

21:35: Ospreys teen Munster en Glasgow Warriors teen Cardiff

  • Saterdag:

15:00: Sharks teen Ulster

17:00: Scarlets teen Benetton

17:05: Stormers teen Edinburgh

19:15: Connacht teen Lions

21:35: Zebre teen Leinster en Dragons teen Bulls.

Punteleer:

  1. Leinster: 44 punte
  2. Bulls: 40 punte
  3. Glasgow Warriors: 40 punte
  4. Edinburgh: 34 punte
  5. Ulster: 34 punte
  6. Munster: 34 punte
  7. Connacht: 33 punte
  8. Benetton: 32 punte
  9. Stormers: 30 punte
  10. Ospreys: 30 punte
  11. Lions: 29 punte
  12. Cardiff: 22 punte
  13. Zebre: 14 punte
  14. Scarlets: 12 punte
  15. Dragons: 11 punte
  16. Sharks: 10 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Begin by die begin, en begin eers speel, en dan daarna begin wen rugby.

SjN ·

Al die spanne wil natuurlik wen, maar sekere span slaag nie altyd nie, wat hy saai sal jy maai.

piet ·

Ek dink daar is ‘n potensiale struikelblok vir die Bulle hierdie naweek teen die 2nd swakste span in die toernooi (swakste na die Sharks). Ek sou eerder daaroor bekommerd wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.