Stormers-wraak vir daardie eerste Loftusskrum

Ramone Samuels druk die Stormers se laaste drie. (Foto Twitter @THESTORMERS)

Goed begonne is half gewonne, lui die spreekwoord. Dit het die Stormers vyf weke gelede ná daardie eerste skrum op Loftus ervaar, en hierdie keer het hulle dieselfde medisyne aan die Bulls op Nuweland uitgedeel.

Die verskil was dat die Stormers dit feitlik deurgaans reggekry het om die Bulls in skrum-trurat te sit met strafskoppe wat op hul eie ingooie gevolg het.

Belangriker nog, die Stormers het hul kanse, dikwels van die Bulls se foute af, benut om die stryd met 29-17 te wen.

Ja, die Bulls het wel van 0-12 na 12 minute teruggeveg en miskien selfs verdien om met rustyd voor te loop. Maar hulle hét nie, en die telling was toe 12-10 in die Stormers se guns.

Sake kon soveel anders gewees het as dit nie vir die onnodige foute aan die Bulls se kant was nie. Oorduik oor losskrums, obstruksielyne op die aanval hardloop, swak aangeë …

Boonop het die Stormers met opskiet- en goed georganiseerde verdediging die besoekers se hardloop-planne tot niet gemaak.

Terselfdertyd was die Bulls se verdediging soms deurmekaar. Daar was te dikwels ʼn geskarrel nodig om te keer, en dit moes eenvoudig iewers skeefloop.

Burger Odendaal-hulle  het weer heelwat kantlyn toe geskop om die agterstand te probeer inhaal nadat hulle nege minute na rustyd die enigste keer in die wedstryd met 17-12 voorgeloop het. Binne twee minute was die Stormers egter weer voor.

Hoek toe skop is nie verkeerd nie. Daar is maklike punte met hierdie verspotte obstruksie-tegniek te kry. Maar dan moet jy die stereotipe uit die vang en dryf haal. Daar is nie gemaal nie, daar was geen afwisseling van wegbreek van die dryfbeweging se rigting  nie, en voor- of agterlangs om die losskrum was nie ʼn opsie nie.

Die Stormers se voorspelers was bobaas, ondanks goeie werk deur Marco van Staden op die grond en die baldraende eienskappe van Lood de Jager, RG Snyman en Jason Jenkins.

Wilco Louw was nie net in die skrums ʼn yster nie; Pieter-Steph du Toit was in die vaste los uitstekend; en agterlangs het Damian de Allende en veral Dillyn Leyds hulle Bok-aansprake verstewig.

Agter die Bulls se skrum het daar met die middelmatige hoeveelheid en die gebrekkige gehalte besit nie veel kon aangaan nie.

Opwindende rugby. Klipharde rugby. Maar nie van die gehalte wat, geoordeel op hierdie vertoning van die twee spanne, hulle ver in die uitspeelrondes sal sien vorder indien hulle hoegenaamd daar sou uitkom nie.

Puntemakers –

Stormers (12) 29: Drieë: Damian Willemse, Wilco Louw, SP Marais, Ramone Samuels. Doelskoppe: Willemse (3). Strafdoel: Marais.
Bulls (10) 17: Drieë: Lood de Jager, Jason Jenkins. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafdoel: Pollard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

rollie ·

Stormers moes ‘n bonuspunt gekry het teen die laaste en swakste span in die SA konferensie. Ten minste twee driee net weggegooi.

Lol ·

Jessie Kriel het weer bewys waarom hy nooit weer Springbok moet wees. Waneer dit tel is sy verdediging swak. Willemse hardloop om hom met geen poging aangewend om te verdedig.

SjN ·

Beide spanne het swak gespeel, die bulle net swakker, pateties, foute, knocks, lusteloos, klomp oorbetaalde gekontrakteerde spelers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.