Strafkaarte beduiwel SA speler se kordaatstuk

Drie strafkaarte het ʼn Suid-Afrikaanse speler se kordaatstuk in die jongste ronde van die Franse Pro D2-liga beduiwel.

Ses strafdoele (18 punte) deur Hansie Graaff (heelagter), ʼn gewese Griffons- en Suidwestelike Distrikte-speler, kon nie keer dat Aurillac sy (Graaff se) span, Massy, met 27-18 verslaan nie.

Danksy die boorling van Pretoria se skopvoet was Massy tot in die 56ste minuut voor, maar twee rooies en ʼn geel kaart aan drie van sy spanlede het veroorsaak dat die span in die laaste halfuur nooit voltallig was nie. Dit het Aurillac die oorhand laat kry.

Pieter-Steyn de Wet (banklosskakel), wat die OP Kings en ander spanne in Curriebeker-rugby verteenwoordig het, het ses van die wenspan se punte met drie doelskoppe op die telbord geplaas.

Franse Top14-liga

♦ Twee Springbokke het saam 13 punte vir Montpellier in sy nederlaag van 23-28 teen die reeksvoorloper Clermont behaal.

Ruan Pienaar (skrumskakel) se drie strafdoele het nege bygedra en Frans Steyn (heelagter) se twee doelskoppe het vir vier gesorg.

♦ Hanro Liebenberg (banklosvoorspeler) het ʼn drie vir Stade Français teen Toulouse gedruk in ʼn kragmeting wat laasgenoemde oortuigend met 49-20 gewen het.

Liebenberg is ʼn gewese SA o. 20-kaptein, wat Superrugby vir die Bulls gespeel het.

Franse Pro D2-liga

♦ Steven Sykes (slot) het ʼn drie vir Oyonnax in sy nederlaag van 23-27 teen Biarritz gedruk.

Hy het Superrugby vir die Sharks, die Kings (as kaptein) en die Cheetas gespeel

SA o. 19 en die Opkomende Springbokke verteenwoordig.

♦ Carcassonne se Mzwanele Zito (slot), ʼn gewese SA o. 19-speler en voorheen van die Kings, het ʼn geel kaart op die lyf geloop in sy span se nederlaag van 10-41 teen Nevers.

Italiaanse Top12-liga

♦ Joe van Niekerk (binnesenter), wat in Bloemfontein gebore is en reeds Opkomende Italië verteenwoordig het, het ʼn drie vir Rovigo in sy sege van 28-9 oor Viadana gedruk.
.
♦ Kayle van Zyl, wat Curriebekerrugby vir die Oostelike Provinsie gespeel het, het een van Calvisano se drieë in sy oorwinning van 32-23 oor Mogliano gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.