Strafskop laat Stormers in Durban glimlag

Foto: Stormers/Twitter

Die Sharks het vandag hul tweede agtereenvolgende nederlaag in die Reënboogbeker gely toe die Stormers hulle met 25 – 22 in Durban geklop het.

Met net ’n paar minute speeltyd oor was die telling nog gelykop, maar Tim Swiel het die wedstryd vir die Kapenaars beklink toe hy ’n strafskop oor die dwarslat gejaag het.

In moeilike en nat toestande was daar tog spelers van al twee spanne wat met hul individuele vaardighede beïndruk het.

Die Stormers se Edwill van der Merwe het twee goeie drieë in die eerste helfte gedruk, terwyl Pieter-Steph du Toit sy klas met ’n stormram-drie in die tweede helfte onderstreep het.

Daarteenoor het Curwin Bosch sy Springbokdroom ’n hupstoot met ’n reusestrafskop in die eerste gegee; ’n mens kry egter die gevoel dat die Bulls se Morné Steyn dalk voor die Durbaniet in die nasionale losskakelry staan.

Foto: Stormers/Twitter

Ox Nche en Thomas du Toit het ook gesorg dat Frans Malherbe en Steven Kitshoff aanvanklik ’n opdraande stryd in die skrums gevoer het, terwyl Siya Kolisi ’n goeie aanvullende rol in Yaw Penxe se drie gespeel het.

Die Sharks-afrigter Sean Everitt het vroeër die week gesê dat sy span goed op die punteleer geposioneer is om die reeks nog te wen. Nou ja, as hulle met die louere wil wegstap, sal hulle hierdie tipe wedstryde moet wen.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Edwill van der Merwe (2) en Pieter-Steph du Toit. Doelskoppe: Abner van Reenen (2). Strafskoppe: Tim Swiel (2).

Sharks: Drieë: Ox Nche, Yaw Penxe en Aphelele Fassi. Doelskoppe: Curwin Bosch (2). Strafskop: Bosch.

  • Punteleer ná die Durban-stryd:
  1. Bulls 13 punte (drie wedstryde)
  2. Stormers 11 punte (vier wedstryde)
  3. Sharks 11 punte (vier wedstryde)
  4. Lions 3 punte (drie wedstryde)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.