Stransky en Le Roux; Ford en Farrell

Owen Farrellen George Ford - nie `n nuwe wenresep nie. (Foto:-m.therecord.com)

Owen Farrell en George Ford – nie `n nuwe wenresep nie. (Foto: therecord.com)

Een van die Bokke se grootste suksesverhale was in 1995, toe Francois Pienaar-hulle die Wêreldbekertoernooi voor die All Blacks weggeraap het.

Die afrigter, Kitch Christie, se besluit om Joel Stransky as losskakel te kies en Hennie le Roux langs hom as binnesenter in te span, was ʼn meesterskuif.

Dit het die Bokke soveel meer keuses gegee, want Joost van der Westhuizen (skrumskakel) was links, Stranksy en Le Roux (regs) en Japie Mulder en André Joubert links.  Dit het dus nie saak gemaak aan watter kant van die veld spel was nie, daar was altyd ʼn Bok-skopper wat die Bokke uit die moeilikheid kon kry.

Net soos Stranksy was Le Roux ook ʼn denker met visie en voorgevoel.  Hulle het mekaar aangevul, albei kon ewe goed na links en regs uitgee, albei het kanse vir hul hul buitespelers geskep, hulle in gapings geplaas.

Almal onthou Stranksy se wenskepdoel in die Wêreldbeker-eindstryd op Ellispark. Maar hoeveel van ons  onthou nog die openingswedstryd op Nuweland toe Stransky die volmaakte vierkuns behaal het? ʼn Drie, doelskop, strafdoel en skepdoel. Christie het daardie dag toe die Bokke die Wallabies met 27-18 verfomfaai het, geweet dat Stransky sy eerstekeuse-losskakel sou wees met Le Roux op  binnesenter.

Een van Le Roux se ander groot bates was sy verdediging. Hy was maar aan die kleinerige kant, maar ek kan nie onthou dat ʼn teenstander hom ooit geflous het nie.

♦  Dit is presies wat die Engelse afrigter, Eddie Jones, nou doen, om Owen Farrell as binnesenter langs George Ford (losskakel) te kies.

Ek weet nie of Ford, of Farrell, die antwoord op losskakel is nie, maar wie kan stry met 18 agtereenvolgende toetsoorwinnings?

Twee denkers, twee spelers wat die bal na links en regs kan uitgee, twee spelers wat mekaar aanvul en kanse vir Jonathan Joseph, Anthony Watson, Jonny May,  Elliot Daly en Jack Nowell skep.

Die All Blacks het dit voorheen ook gereeld gedoen. Aaron Mauger  en Dan Carter langs mekaar, of andersom. Só ook het Jonny Wilkinson sy buiging op binnesenter gemaak toe hy die eerste keer saam met  Engeland getoer het. Henry Honiball het ʼn hele paar toetse vir die Bokke op binnesenter begin. Só ook die Wallabies se Matt Giteau.

Jones het nie die wiel herontdek nie, hy bou net met baie groot welslae voort op die hoekstene wat ander afrigters voor hom gelê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.