Stransky en Naas laat die All Blacks se hare rys

Joel Stransky het die wen-skepskop in die 1995 Wêreldbeker deur die pale gejaag. Foto: Facebook.

Toe die Springboklosskakel Joel Stransky met die eerste van sy twee skepdoele in die Wêreldbeker-eindstryd van 1995 op Ellispark teen die All Blacks slaag, het die Kiwi’s diep gesug en kop geskud.

Maar toe Stransky die beslissende skepdoel in bykomende speeltyd deur die pale geklits het om die Springbokke met 15 – 12 te laat wen, kon geen gesinskoerant of webtuiste dit waag om die kragwoorde wat geuiter is te publiseer nie.

Die All Blacks haat skepdoele vir die meer as 122 jaar wat hulle toetsrugby speel.

Noem die name van Stransky, Hansie Brewis, Piet Visagie, Gerald Bosch, Naas Botha, Percy Montgomery en Morné Steyn in enige Nieu-Seelander se geselskap en dit sal sy nekhare laat rys.

Hoekom weet ek nie, want om ʼn skepdoel te behaal, verg soms meer talent as om met ʼn strafdoel te slaag of ʼn doelskop oor te klits.

Ironies genoeg het die Nieu-Seelanders, so amper uit die bloute uit, die kuns ontdek om skepdoele in die nuwe Superrugby Aotearoa-reeks te behaal.

Dis nou net droppie voor en droppie agter, soos die Nieu-Seelandse kommentators daarna verwys.

Spelskeppers soos Beauden Barrett en Damian McKenzie het nou die kuns vervolmaak om ook met skepdoele te slaag.

Maar eintlik is Suid-Afrika nie voor in die koor wanneer daar oor skepdoele gepraat word nie.

Die Engelse losskakel Johnny Wilkinson het 36 skepskoppe in 97 toetse oorgeklits, gevolg deur Hugo Porta van Argentinië (28 in 66 toetse) en nog ʼn Engelsman, Rob Andrew (23 in 76 toetse).

Wilkinson het juis die Webb Ellis-trofee in 2003 vir Engeland beklink toe hy ook met ʼn skepdoel in bykomende tyd geslaag het.

Koning Naas is maar vyfde op die lys (18 in 28 toetse). Hy het boonop net vier skepdoele teen die All Blacks behaal.

Die enigste All Black op die lys is Andrew Mehrtens, wat die gesamentlike 10de plek beklee met 10 skepdoele in 70 toetse.

Mehrtens het juis met ʼn skepdoel in die WB-eindstryd geslaag, maar sy poging in bykomende tyd was net-net mis.

Wees maar verseker, wanneer toetsrugby hervat word en die All Blacks weer teen die Springbokke speel, gaan die skoen aan die ander voet wees, want die All Blacks gaan dié keer ook skepskop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
capie

Ja ‘n goeie skepskopper kan amok mak. Vra maar vir Jannie de Beer

Martie Smartie

As ek so somme maak en skepdoele per toets uitwerk, is Naas ver voor die ander name wat genoem word …