Strawwe stryde in Durban en Uitenhage te wagte

college roversCollege Rovers en Oos-Londen Polisie verwag strawwe teenstand wanneer hulle Saterdag onderskeidelik in Durban en op Uitenhage vir die Goue Beker in aanmerking probeer kom.

Rovers (KwaZulu-Natal) speel teen Raiders (Goue Leeus), en Polisie (Grens) teen Gardens (Oostelike Provinsie).

Daar is slegs twee vakatures in die reeks en die wenspanne Saterdag sal die daaropvolgende week daarvoor uitspeel.

Derek Heiberg, die hoofafrigter van College Rovers, sê hulle het uit die staanspoor geweet dit sal `n moeilike pad wees voor hulle weer in die Goue Bekerreeks kan speel.

“Ons moes eers die Moorbeker (Die beker is in die KZN Premierliga op die spel. – Red.) terugwen nadat Durban Collegians dit die afgelope twee jaar verower het. Sou ons daarin slaag, het daar uitspeelwedstryde gewag.

“Noudat die eerste stap voltooi is deur die Moorbeker terug te wen, is Rovers baie opgewonde oor die wedstryd wat teen Raiders wag.”

Heiberg sê Rovers besef `n nederlaag beteken die einde van die pad.

“Ons het daarom deeglik voorberei en sien uit na die uitdaging. Nadat ons verlede jaar in die groepfase van die oopklubreeks teen Raiders gespeel het, is ons des te meer onder die indruk van die uitdaging wat hulle bied.”

Rovers het daardie wedstryd in die Bill Jardinestadion in Johannesburg 25-15 gewen.

“Ons glo ons is goed op dreef, nadat ons die KZN-Premierliga onoorwonne afgesluit het, en vertrou die tuisveld sal tot ons voordeel strek.

“Waaroor ons nie twyfel nie, is dat dit `n baie gelykop wedstryd sal wees,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Oos-Londen Polisie

♦ Alistair Alexander, die hoofafrigter van Oos-Londen Polisie, beskou die kragmeting teen Gardens as `n taaie omdat laasgenoemde die Oos-Kaapse Super12-liga (tussen klubs van Grens en die OP) sowel as die OP se Grootuitdaagbeker gewen het.

“Ons het ons voorbereiding gedoen en hoop om hulle voorlangs vas te vat,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Hulle het `n vinnige agterlyn en ons verdediging sal in die kol moet wees.

“Dit sal allermins maklik wees, maar ons hoop om die knoop deur te hak.”

Polisie het verlede jaar die Super12 gewen deur einste Gardens 20-15 in die eindstryd op Polisiepark in Oos-Londen te klop, maar is vanjaar in die halfeindronde van die reeks uitgeskakel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.