Strawwer as Blou Bulle se Carlton kan dit nie

ʼn Strawwer klubliga as die Blou Bulle se Carltonreeks, en – hou vas – dit sluit die rondomtalie van die internasionale Goue Bekerreeks in, is nie juis vanjaar moontlik nie.

Sou enigeen van die ander vier klubs die Carltonbeker wil wen, moet hy die heersende Goue Bekerkampioen, Rustenburg Impala, sowel as Tukkies, die pas gekroonde Varsitybekerkampioen, klop.

Om vir die Goue Beker in aanmerking te kom, is net-net makliker, want bogenoemde kampioene is nie struikelblokke in dié opsig nie. Impala is ʼn Luiperdsklub, en die universiteite het hul eie reeks.

Selfs dít sal egter moeiliker as in die meeste ander bonde gaan.

Die vier aanspraakmakers is Centurion (die verdedigende Carltonkampioen), die Naka Bulle (die huidige Assupolkampioen), Quins-Bobbies-rugby (QBR), en Dragons.

Die Noorderbonde se Assupolreeks kan nie sonder meer as maatstaf dien nie, maar dit kan ook nie heeltemal buite rekening gelaat word, dat sowel die GB-kampioen, Impala, as die GB-halfeindstryder, Brakpan (Valke), nie eersgenoemde reeks se eindstryd gehaal het nie.

QBR, wat in die Assupolfinaal met 25-38 teen Naka verloor het, spruit uit die samesmelting van die Pretoriase klubs Harlequins en Polisie. Laasgenoemde het ook verlede jaar tot in die GB-halfeindstryd gevorder.

Die Dragons het verlede jaar die eerste keer in die Bulle se senior reeks gespeel, maar was uiters mededingend en het vir sy kwota verrassings gesorg.

Van die ses afrigters wat mekaar in die reeks pak – Nico le Roux (Impala), Chris Buitendach (Tukkies), Riaan Brandt (Centurion), Marinus van der Watt (Naka), Nico Luus (QBR) en Johan du Toit (Dragons) – is Luus die enigste wat nie op die een of ander provinsiale vlak afgerig het nie.

Ná 150 eersterangse wedstryde as speler is daar egter kwalik iets van die spel wat hy nie weet nie, en hy word reeds as een van die belowendste opkomende afrigters beskou.

Le Roux, verlede jaar se SA klubafrigter van die jaar, het op sy dag die All Blacks help slyp.

Cliché of te nie, die span wat nie elke Carltonkragmeting vanjaar soos ʼn eindstryd benader nie, kan maar by voorbaat tou opgooi.

Die Westelike Provinsie, Boland en Suidwestelike Distrikte kan ook maar met hul klubrugby spog soos hulle wil, die Carltonliga stel vanjaar soos van ouds die maatstaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Douw ·

Jinne, dit gaan lip-lekker rugby wees. Ek sal ‘n paar rand op Naka waag die jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.