Streeptruie en Bulle slaags in die Kaap

Morné Steyn begin op losskakel vir die Blou Bulle. Foto: GB Jordaan.

Hoewel dit glad nie ’n seepgladde vertoning was nie, het die Blou Bulle verlede naweek genoeg in die Laeveld gedoen om hul eerste Curriebeker-wedstryd van die jaar te wen.

Nou sal die manne van Pretoria ’n beter vertoning wil lewer wanneer hulle môre-aand met die Westelike Provinsie in Kaapstad kragte meet.

Ondanks die feit dat die Verenigde Rugbykampioenskap hierdie week hervat word, het Gert Smal (Curriebeker-afrigter) steeds ’n paar Springbok-spelers in die beginspan tot sy beskikking.

Lionel Mapoe begin op buitesenter, terwyl die betroubare Morné Steyn op losskakel ingespan word. Dan sorg Marcell Coetzee en Bismarck du Plessis vir die ervaring voorlangs.

Die sewesster Angelo Davids het verlede week drie drieë teen die Leeus gedruk. Foto: Hansie Linde.

“Ons sien oudergewoonte uit na ’n taai en fisieke stryd teen die WP en ons is dankbaar om ’n goeie balans tussen ervaring en opwindende jong talent vir die wedstryd beskikbaar te hê,” het Smal gesê.

Op sy beurt het Jerome Paarwater (WP-afrigter) twee veranderinge aangebring aan die span wat verlede naweek met die Leeus afgereken het.

Die Streeptrui-breier het die hoop uitgespreek dat die bestendige spankeuses vir beter samehorigheid onder die verskillende kombinasies sal sorg.

Angelo Davids, wat vir drie van die Kapenaars se drieë teen die Leeus verantwoordelik was, sal op regtervleuel uitdraf.

Afskoptyd is môre om 20:00 en die wedstryd sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

WP: Tristan Leyds (heelagter), Angelo Davids (regtervleuel), Leolin Zas (buitsenter), Cornel Smit (binnesenter), Paschal Ekeji (linkervleuel), Tim Swiel (losskakel), Thomas Bursey (skrumskakel), Keke Morabe (agtsteman), Marcel Theunissen (flank), Nama Xaba (kaptein en flank), Simon Miller (slot), Connor Evans (slot), Lee-Marvin Mazibuko (stut), Chad Solomon (haker) en Kwenzo Blose (stut). Plaasvervangers: Jacques Goosen, Ali Vermaak, Corné Weilbach, Jarrod Taylor, Roelof Smit, Godlen Masimla, Chris Schreuder en Mnombo Zwelendaba.

Blou Bulle: James Verity-Amm (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Lionel Mapoe (buitsenter), Harold Vorster (binnesenter), Sibongile Novuka (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Marco Jansen van Vuuren (skrumskakel), Muller Uys (agtsteman), Cyle Brink (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Janko Swanepoel (slot), Sintu Manjezi (slot), Robert Hunt (stut), Bismarck du Plessis (haker) en Simphiwe Matanzima (stut). Plaasvervangers: Schalk Erasmus, Jan-Hendrik Wessels, Sebastian Lombard, Reihardt Ludwig, WJ Steenkamp, Keagan Johannes, FC du Plessis en Stedman Gans.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.