Streeptruie gee Goue Leeus streepsuiker

Die WP-losskakel, Joshua Stander, druk een van sy span se nege drieë. (Foto: GB Jordaan)

Die verdedigende Curriebeker-kampioen het Saterdag op Ellispark sonder aansien des persoons met een van sy vernaamste uitdagers afgereken.

Die Westelike Provinsie is steeds onoorwonne in die reeks nadat hy die Goue Leeus, op daardie tydstip saam met die Sharks die enigste ander onoorwonne spanne, deeglik met 65-38 gelooi het (rustyd 39-10).

Albei spanne het puik hanteer, verdien punte vir hul ondersteuning op die aanval, en daar was volop hardlooprugby – en baie (14) drieë. Die verdedigingstrukture was egter maar eina in dié los wedstryd.

Die WP-heelagter, SP Marais, het 25 punte behaal. Hy het ʼn drie gedruk, en met sewe doelskoppe en twee strafdoele geslaag.

♦ In Kimberley het Griekwas die Vrystaat in die tweede helfte tot stilstand gespeel.

Die besoekers was rustyd met 24-12 voor, maar ná die omdraaislag het die Poubloues vaster gespeel, en hulle eenvoudig van die veld gevee en met 52-24 gewen.

Dan Kriel word vasgevat met Scarra Ntubeni wat agter by is om te help, en dié se haker-teenstander, Corné Fourie, om te help keer. (Foto: GB Jordaan)

George Whitehead, die Griekwas-losskakel, het al sewe sy span se drieë verdoel, en met ʼn strafdoel geslaag om 17 punte by te dra.

Boland het die Griffons in Welkom met 48-45 verslaan. Dit beteken die verdedigende kampioen kon tot dusver vanjaar nog nie ʼn wedstryd in die reeks wen nie.

In Kempton Park het die Suidwestelike Distrikte ʼn rustydagterstand van 12-22 omgekeer om die Valke uiteindelik net-net met 36-34 te troef.

Puntemakers –

Goue Leeus 38 (10) – Drieë: James Venter, strafdrie, Pieter Jansen, Hacjivah Daymani, Leon Massyn. Doelskoppe: Shaun Reynolds (4). Strafdoel: Shaun Reynolds.

WP 65 (39) – Drieë: Dillyn Leyds (2), SP Marais, Sergeal Petersen (2), Joshua Stander, Juarno Augustus, JD Schickerling, Daniël du Plessis. Doelskoppe: SP Marais (7). Strafdoele: SP Marais (2).

Griekwas 52 (14) – Drieë: Ederies Arendse, FP Pelser (2), Enver Brandt, AJ le Roux, Kyle Steyn, Zak Burger. Doelskoppe: George Whitehead (7). Strafdoel: George Whitehead.

Vrystaat 24 (24) – Drieë: Ali Mgijima, Jan Carel Coetzee, Tertius Kruger. Doelskoppe: Ernst Stapelberg (3). Strafdoel: Ernst Stapelberg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

rollie ·

Foeitog dan soek hulle nog spelers in die Bok-span. Ha, ha.

Frans C ·

Die Lions is nou terug waar hul was toe hul uit Superrugby geskop is en is in dieselfde
bootjie as die Cheetahs.’n Span kan net soveel spelers verloor voordat die krake begin wys.
Al ons Curriebekerspanne sal harde bene kou in die oorseese kompetisies en in NZ-se eweknie van die Curriebeker.Rollie asb man moenie dat die manne nou ‘n ‘D’ by jou naam voeg agv van jou nikseggende kommentaar.

wolla ·

WP het dan net nou die dag vir Montpellier in Frankryk met al sy sterre laat hardebene kou. Jy’s egter reg wat die res van ons CB spanne aanbetref.

Frans C ·

Wollie jy maak my dag.Die WP het ‘n span wat 11de in die kompetisie is harde bene laat kou. Sjoe as ons Curriebekerkampioen nie die span ‘n pak slae kan gee,dan sê dit nie baie van ons spanne se rugbykrag nie.

wolla ·

Hulle het in die eindstryd van die top 14 nou die dag verloor poplap. WP het teen daai span voorseisoens gespeel. Lees bietjie wie speel almal vir hulle. Jy moet regtig jou feite regkry voor jy jou naam likkewaan maak, ouboet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.