Streeptruie in ʼn Curriebeker-klas van hul eie

Die Westelike Provinsie het Saterdag op Nuweland getoon dat, wat die Curriebeker-reeks betref, hy in ʼn klas van sy eie is.

Die Streeptruie het die Sharks met 50-28 verslaan om `n tuishalfeindstryd in die reeks te verseker.
Hoewel die Sharks die middelse deel van die kragmeting manmoedig gestry het, het die WP eenvoudig soveel meer afronding getoon.

Die Sharks was eerste op die telbord, maar ʼn blitsoorlog deur die Streeptruie het die telling binne 28 minute tot 31-7 in hul guns gevoer – die bonuspuntdrie inkluis.

Die besoekers het meedoënloos teruggeveg om net voor die rustydtoeter, met ʼn doel, die gaping tot tien punte te laat krimp.

Hanteerfoute en swak dissipline, veral aan die Sharks se kant, het talle gulde geleenthede laat skipbreuk ly.

Die besoekers was tot laat in die tweede helfte nog in die prentjie, maar toe het die Streeptruie die genadeslag toegedien.

SP Marais, die WP-heelagter, het 20 van die wenspan se punte met ʼn drie ses doelskoppe en ʼn strafdoel behaal.

Puntemakers –

WP 50 (31) – Drieë: Jaco Coetzee, Ruhan Nel, Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, SP Marais, JJ Engelbrecht, Chad Solomon. Doelskoppe: SP Marais (6). Strafdoel: SP Marais.

Sharks 28 (21) – Drieë: Marius Louw, Tyler Paul, Gideon Koegelenberg, Aphelele Fassi. Doelskoppe: Robert du Preez (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frans C ·

In die land van die blindes is eenoog koning.Met die Leeus wat stelselmatig leeggestroop word en die Cheetahs oorsee worstel moet een span tog uitstyg bo ‘n klomp swakkes.

Frans C ·

Die waarheid is dat Suid Afrikaanse rugbyondersteuners soos volstruise hul kop in die sand steek.Ons rugby is so swak dat dit 8 jaar gelede is dat ‘n Suid Afrikaanse span die Superrugby kompetisie kon wen,nl 2010 en nog langer dat die ‘Rugby championship’
gewen is,nl 2009,die jaar toe die Bulls ook die Superrugby kompetisie gewen het.

Daar is ‘n duidelike verband tussen Superrugby en rugbyspanne se prestasie in die Suidelike halfrond.NZ spanne het die kompetisie 16 keer gewen,Australia 4 keer en Suid Afrika 3 keer. (Sluit Super 10 uit).NZ wen die ‘Rugby championship’ 16 keer,Australia 4 keer en Suid Afrika 3 keer.
Dit is dus ‘n duidelike bewys dat hoe sterkeral jou Super rugbyspanne is,hoe beter
vaar jy in die ‘Rugby Championship’.Dit beteken egter ook dat al die spanne in jou plaaslike kompetisie mededingend moet wees,hoe strawwer hoe beter is die spelers
toegerus om internasionaal mee te ding.

As een span dus die toneel oordonder wag daar probleme op internasionale vlak en verdwyn ‘sterre’ gou onder strawwe kompetisie.Die wêreldbeker is ‘n ander kompetisie
en speel die samestelling van die verskillende ‘pools’ ‘n groot rol om die uiteindelike
wenner te bepaal.

Punt is ons weeet eenvoudig nie meer wat goeie rugby is en raak opgewonde as een span ‘n ander oordonder om later op internasionale vlak ontnugter te word.

Michael ·

Ek stem nie saam die formaat hoe die C B gespeel word nie. maar die WP speel regtig waar mooi rugby en S P speel seker van sy beste rugby die jaar.

nico k ·

Ek dink die probleem met die formaat is eerstens veroorsaak deur die gebrek aan beskikbare tyd tussen al die ander baie rugby. En die gebrek aan geld. Die Curriebeker trek net nie meer aandag nie. Dis jammer want dit was nog altyd my gunsteling kompetisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.