Stryd van no. 9’s tydens Wallis-toer

Faf de Klerk laat waai met sy skopvoet. Foto: Odd Andersen.

Kieran Hardy sien daarna uit om teen Faf de Klerk in die komende reeks tussen die Springbokke en Wallis te speel.

Volgens die 26-jarige Walliese skrumskakel sal die besoekers veral op hul hoede vir De Klerk se skoppe wees.

“Die manier waarop hy die spel dikteer, bied ’n unieke uitdaging, maar ek dink Faf de Klerk is een van die beste skrumskakels in wêreldrugby en dit sal ’n wonderlike geleentheid wees om teen hom kragte te meet,” het Hardy gesê.

Die Scarlets-speler is saam met Gareth Davies en Tomos Williams een van drie skrumskakels in die Rooidraak-toergroep en hy is oorgehaal om sy geleenthede met al twee hande vas te gryp.

“Ons al drie wil graag speel en met die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk om die draai, moet iemand sy hand opsteek om die nommernegetrui sy eie te maak. Dit sal dus geen skade doen as ek my kanse in Suid-Afrika goed benut nie.”

De Klerk het ’n paar weke terug sy laaste wedstryd vir die Sale Sharks gespeel nadat daar bevestig is dat hy voortaan vir die Yokohama Canon Eagles in Japan gaan uitdraf.

Die 30-jarige Suid-Afrikaner is saam met Jaden Hendrikse, Herschel Jantjies, Cobus Reinach en Grant Williams in die Springbokgroep van 43 spelers, maar sy onlangse goeie vertonings in Engeland behoort hom die binnebaan na die beginspan te gee.

Tog speel iemand soos Reinach glad nie slegte rugby nie en Handré Pollard het al voorheen gesê dat die Montpellier-skrumskakel oor die talent beskik om van hom ’n gevaar op die internasionale verhoog te maak.

“Cobus het uitstekend gespeel en hy het aan almal gewys dat hy oor die X-faktor beskik,” het Pollard verlede jaar gesê nadat Reinach amok teen Racing 92 in Frankryk gemaak het.

Die blitsige skrumskakel het toe twee drieë gedruk en hy het gewys dat daar beslis nie ’n plaasvervanger vir spoed op ’n rugbyveld is nie.

Terselfdertyd was Jantjies ’n lid van die Stormers se seëvierende Verenigde Rugbykampioenskap-span, terwyl hy ook al 19 toetse vir Suid-Afrika gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.