Stryde ten bloede in Super 12-reeks te wagte

ooskaapwapenIn die Oos-Kaapse Super 12-reeks kan `n paar stryde ten bloede in Saterdag se laaste rondomtalie-wedstryde verwag word.

Die kollig sal veral op Groep A val, waar twee deurslaggewende kragmetings die ondersteuners by voorbaat die lippe laat aflek.

Gardens (Uitenhage), die verdedigende kampioen, speel tuis teen die voorloper in die groep, Spring Rose (New Brighton); en Swallows (Mdantsane) speel op sy tuisveld teen Park (Port Elizabeth).

Die span tussen Gardens en Spring Rose wat wen, sal van `n tuishalfeindstryd verseker wees.

Vir die kampioen is daar egter veel meer op die spel. Verloor hy, en die derde geplaaste Swallows klop Park, is dit vir hom neusie verby om weer die kroon te dra.

Die enigste ander wedstryd wat dalk nog bepalend op die halfeindstryde kan inwerk, is dié tussen die onoorwonne voorloper in Groep B, Progress (Uitenhage), en die Walter Sisulu-universiteit (Potsdam).

In die onwaarskynlike geval dat die studente die Uitenhaagse span op dié se tuisveld met `n stuk of 40 punte kan klop, kan die WRU vir Oos-Londen Polisie – wat al sy bepalings voltooi het – uit die halfeindstryd dwing.

Port Elizabeth Harlequins en Buffaloes (Oos-Londen) speel in die ander wedstryd in Groep B, maar die uitslag kan nie `n uitwerking op die halfeindstryde hê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.