Stryde tot bloedens toe wag in Goue Bekerreeks

Verskeie stryde tot bloedens toe wag allig Saterdag in die laaste groepwedstryde van die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oopklubreeks om die Goue Beker.

In Vereeniging sal die spanne met mag en mening inklim waar die tuisspan (Valke) en die verdedigende GB-kampioen, Rustenburg Impala (Luiperds), aan mekaar spring.

Vir Vereeniging is dit ʼn laaste kans om die uitspeelronde te haal teen ʼn kampioen wat tot dusver kwesbaar vertoon het. Impala sal op sy beurt tot elke prys ʼn roemlose uitvaart wil vermy.

Onder enige ander omstandighede sal die wedstryd in Durban in Groep D tussen College Rovers (KwaZulu-Natal) en Valsbaai (Westelike Provinsie) geen eindstryd oneer aandoen nie.

Dis egter twee van vier Goue Bekerspanne wat voor ʼn bitter moeilike keuse staan.

ʼn Kwarteindstryd tuis is die prys wat op die spel is in dié wedstryd, en die een in Groep B tussen Quins-Bobbies-rugby (Blou Bulle) en Northam Rhinos (Limpopo Blou Bulle) in Pretoria.

Almal is onoorwonne en verseker van ʼn plek in die eerste uitspeelronde.

Die vraag is nou of hulle hul gô gaan uitspeel vir ʼn tuishalfeind, waarin hulle dalk te poegaai gaan wees om hul beste te lewer, en of hulle uit die staanspoor met ʼn tweede plek tevrede sal wees.

Die wedstryde gaan in elk geval hoë eise aan die onderskeie afrigters se personeelbestuur stel.

Ook in die uiters mededingende Groep C kan vuurwerk verwag word.

Die onoorwonne voorloper, Progress George (Suidwestelike Distrikte), is nog geensins van ʼn tuiskwarteind verseker nie, en op Despatch, kan hy hom ook maar vet smeer vir ʼn verbete aanslag deur Progress Uitenhage (Oostelike Provinsie).

Tygerberg (WP) is op die oog af die gunsteling om Old Selbornians (Grens) in Oos-Londen te klop, maar die tuisspan het elk van sy drie wedstryde tot dusver naelskraap verloor, en sal waarskynlik alles in die stryd werp om darem ʼn slag as oorwinnaar van die veld te stap.

Op Wellington waar Roses United (Boland) teen Sishen (Griekwas) speel, in Bloemfontein waar die plaaslike Polisie (Vrystaat) teen Welkom (Griffons) speel, en in Johannesburg waar Raiders (Goue Leeus) teen Vaal Reefs (Luiperds) speel, kan die spanne bloot hul rugby geniet.

Vir hulle is die toernooi ná Saterdag verby.

Hoe dit ook al sy, Saterdag se GB-kragmetings behoort nie aan opwinding, spanning en drama te kort te skiet nie.

Afskoptye –

Saterdag

12:30 Roses United teen Sishen, Pelikaanpark, Wellington.

14:00 Polisie teen Welkom, Bobbiespark, Bloemfontein.

15:00 Raiders teen Vaal Reefs, Bill Jardinestadion, Johannesburg.

15:00 Northam teen QBR, Setaria-ontspanningsklub, Setaria.

15:00 Old Selborinans teen Tygerberg, MPM-park, Oos-Londen.

15:00 College Rovers teen Valsbaai, KP3, Kingspark, Durban.

15:30 Progress Uitenhage teen Progress George, WJ de Wetstadion, Despatch.

16:00 Vereeniging teen Impala, Phoenix-hoërskool, Vereeniging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.